Nie ’n enkele vullisterrein in die Noord-Kaap voldoen aan die omgewing-, gesondheid- en veiligheidsvereistes vir afvalbestuur nie.
Dit is die tweede jaar agtereenvolgend dat vullisterreine in dié provinsie nie aan die minimum wetlike vereiste van 80% vir verantwoordelike afvalbestuur voldoen nie – soos uiteengesit in AfriForum se jaarlikse ouditverslag hieroor.
Volgens dié verslag gaan dit so beroerd in die Noord-Kaap dat Britstown, De Aar, Delportshoop, Douglas, Hanover, Keimoes en Strydenburg se vullisterreine aan géén van die vereistes voldoen nie. Dié van Kimberley het 36% behaal, Kathu 24%, Upington 12% en Warrenton 6%. Slegs Orania se vullisterrein het amper met 76% geslaag. Kuruman het nie té vrot nie met 60% gevaar.
Oor 25 jaar gaan Afrika hoop vir hoop teen 516 miljoen ton rommel per jaar verswelg word.
Meer as 90% van die kontinent se rommel word by onbeheerde en nie-amptelike stortingsterreine weggegooi, sê die African Union Development Agency (Auda).
In vele gevalle, oor die kontinent heen, word dié rommel aan die brand gesteek. Dit lei onder meer tot lugbesoedeling, en onbeheersde brande.
Rommel lê ook onbenut op sypaadjies en oop ruimtes in stede en dorpe, op oop terreine buite nedersettings, en verstop stormwaterafvoerpype en besoedel waterbronne. Dít terwyl 70% tot 80% hiervan herwinbaar is. Tog word slegs 4% herwin, volgens Auda.
Inkomste- én werksmoontlikhede in die herwinning van rommel word nog misgekyk. Die South African Plastic Recycling Organisation dui aan dat 58 750 inkomstegeleenthede in 2019 deur die herwinning van plastiek geskep is, en dat die herwinning hiervan 2,3% direk tot Suid-Afrika se bruto binnelandse produk bygedra het.
Mag regerings, die Noord-Kaap s’n inkluis, besef dat rommelherwinning noodsaaklik vir ’n “moderne, groeiende en suksesvolle” bestel is. Daarsonder kan vooruitgang verswelg word.



