Vandale wat die afgelope jare geskiedkundige standbeelde in Kimberley vernietig het, het die Africana-navorsingsbiblioteek genoop om standbeelde om sy gebou te verwyder.
Dit kom nadat onder meer die Diggers Memorial Fountain in die Oppenheimer-tuin in die stad beskadig is en dele daarvan weggedra is – waarskynlik om as skrootmetaal te verkoop.
Dié gedenkteken en spuitfontein het uit vyf lewensgrootte figure van myners wat ’n diamantsif vashou, bestaan. Die sif en die metaalraam waarin dit gerus het, is in Oktober 2020 gesteel. In September is een van die figure verwyder, en sy hande afgesny, ook waarskynlik om as skrootmetaal te verkoop.
Volgens Bernice Nagel, hoofbibliotekaris by die Africana-navorsingsbiblioteek, het die toenemende voorvalle van vandalisme hulle tot optrede gedwing.
“Die beelde van Bernard Klisser, Alfred Beit en Balthazar Johannes ‘BJ’ Vorster – wat in 1995 met die naamsverandering van die Kimberley-lughawe verwyder is – wat op voetstukke in die tuin en in die gebou gemessel was, sou waarskynlik ook gevandaliseer en gesteel word.
“Ek het die Africana-navorsingsbiblioteektrust suksesvol versoek dat ons die beelde moet beskerm. ’n Deskundige het die beelde ’n paar maande gelede verwyder.
“Dit word in die kluis bewaar. Dit is eintlik baie hartseer, want die beelde het ons gebouekompleks besonders gemaak. Nou is daar net leë voetstukke en ’n inham.”
Die kopbeeld van Beit is deur Henry Pegram gemaak en in 1912 opgerig. Beit (1853-1906), bekend as ’n Randlord of Randmagnaat, is in Duitsland gebore en in Engeland dood.
Hy was ’n bekende diamant- en goudmagnaat. Beitbrug is na hom genoem nadat hy geld geskenk het vir die bou daarvan en ander infrastruktuur in Suidelike Afrika.
Hy het as jong man in Amsterdam by ’n diamanthandelaar gewerk wat hom na die destydse Port Elizabeth gestuur het. Van daar is hy na Kimberley, waar hy Cecil John Rhodes ontmoet en gehelp het om De Beers te stig.
Beit het ook sy eie maatskappye gehad. Hy het die spoorlyn van Kimberley na Rhodesië geborg. Sy betrokkenheid by die Jameson-inval was ’n terugslag, en hy is gedwing om as direkteur by British South Africa Company (Chartered House) te bedank (hy is later heraangestel).
Hy het geld aan die Engelse magte tydens die Anglo Boere-oorlog gegee. Beit het die grond gekoop waarop die standbeeld van Rhodes op sy perd in Kimberley staan. Die magnaat het ook geld aan universiteite in Suid-Afrika en Engeland geskenk en fondse gestig om behoeftiges te help.
Bernard Klisser (1854-1922) was ’n diamanthandelaar en filantroop. Hy is in Nederland gebore en het in 1870 in Kimberley aangekom waar hy en sy oom diamante van die delwers gekoop en verkoop het. Sy fortuin is met die diamantmarkineenstorting in die 1880’s daarmee heen, waarna hy as insolvent verklaar is.
Hy het egter geldelik herstel, en met sy dood is ’n deel van sy fortuin aan die Alfred Beit- en Bernard Klisser-fonds geskenk.
Anton van Wouw het die beeld van Klisser in opdrag van die destydse Kimberley- munisipale raad gemaak. Dit is in 1927 onthul, tesame met die heropening van die Africana-biblioteek, wat intussen vergroot is.
BJ Vorster (1915-1983) was die Suid-Afrikaanse eerste minister sedert 1966 en 1978, en was staatspresident van 1978 tot 1979.





