Die borgtogaansoek van ’n man wat van die verkragting van ’n 11-jarige meisie op twee geleenthede in Galeshewe aangekla word, moet van voor af begin.
Dit volg op ’n uitspraak in April in die hooggeregshof in Kimberley dat die betrokke landdros wat die borgtogaansoek in Maart vanjaar in die streekhof in Galeshewe aangehoor het, moontlik bevooroordeeld was.
Omdat die beskuldigde van ’n skedule 6-misdryf aangekla is, moet hy uitsonderlike en dwingende omstandighede toon wat sy vrylating regverdig.
Die beskuldigde het die hooggeregshof genader nadat hy borgtog geweier is én sy aansoek geweier is dat die betrokke landdros homself van die saak onttrek.
Die beskuldigde, wat nie geïdentifiseer mag word nie, het self in die mislukte borgtogaansoek getuig. Sy vriend het getuig om te bevestig dat hy nie ’n gevaar vir die samelewing inhou indien hy op borgtog vrygelaat word nie. Volgens die beskuldigde het die landdros vrae gestel en opmerkings gemaak wat die persepsie van vooroordeel geskep het.
Regter Lawrence Lever het in sy uitspraak bevind dat dit uniek in die geval was dat die staat en verdediging dit eens was dat daar moontlik vooroordeel in die aanhoor van die borgtogaansoek was. Gevolglik het die regter beveel dat die besluit van die landdros om homself te onttrek, ter syde gestel word, asook die bevel waarin die beskuldigde se borgtogaansoek geweier is. Dié aansoek moet so spoedig moontlik van nuuts voor ’n ander landdros aangehoor word. Die transkripsie van die betrokke borgtogaansoek word in die uitspraak weergegee.
“Die landdros het ’n protagonis in die borgtogaansoek geword. Die redelike mens sal uit die transkripsies vrees dat die landdros moontlik partydig was,” het die regter bevind. Hy moes bepaal of die appellant wel ’n redelike geleentheid gegun is om sy getuienis te gee.
“Die saak moet oorweeg word deur ’n passievolle, betrokke regsgeleerde, wat die meriete sonder vooroordeel of partydigheid sal beoordeel. Die reg op ’n regverdige verhoor is die hoeksteen van enige geloofwaardige regstelsel.
“Die Grondwet vereis dat elke hof, insluitend kriminele howe en howe wat borgtogaansoeke oorweeg, onafhanklik en onpartydig moet wees, anders verloor die stelsel sy geloofwaardigheid. Dit is veral so in ’n borgtogaansoek omdat die vermoede van onskuld en die reg op persoonlike vryheid ter sprake is.”




