Augrabies-waterval
Die Augrabieswaterval die afgelope week. Foto: Facebook/SANParks – Augrabies National Park

‘n Toeris van Kaapstad-omgewing is as vermis by die Augrabieswaterval- Nasionale Park aangemeld.

Die 66-jarige man het blykbaar op Donderdag 10 April alleen by die park ingeboek, en die volgende dag op ‘n staptog op een van die talle staproetes vertrek.

Inligting oor die vermiste man is Dinsdagoggend 15 April bekend gemaak.

Kol. Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder, sê toe hy Vrydag teen 16:30 nog nie van die staproete teruggekeer het nie, het die parkpersoneel dit by die polisiekantoor in Augrabies-dorp aangemeld.

Sy besittings en voertuig was steeds in die park.

Ehlers sê ‘n uitgebreide soektog na die vermiste man is onmiddellik daarna begin.

Lede van die polisie in Augrabies, die polisie se lugvleuel, Upington soek-en-redding-eenheid, honde-eenheid, asook iemand wat ‘n hommeltuig beheer, is by die soektog betrek.

Teen Donderdagmiddag 17 April het Ehlers gesê dat die soektog na die man steeds voortgaan.

Genevieve Maasdorp, kommunikasiebestuurder van die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke se ariede streek, sê die vermiste man se identiteit word nog nie bekend gemaak nie. Sy naasbestaandes is bewus van die feit dat hy vermis word, sê sy.

Ehlers vra dat enigeen met inligting wat kan help om die vermiste man op te spoor, kapt. Robert Turner by 082 770 4208 bel, of sers. Tshepo Marungwana by 084 298 5101.

Skouspel word by Augrabies verwag

Intussen word verwag dat die vloei van die Augrabieswaterval waarskynlik teen Vrydag 18 April tot 3 000 m³ per sekonde (kumek) sal styg, sê Maasdorp. Op Dinsdag 15 April was die vloei 2 732 kumek.

Maasdorp sê op Donderdag 2 Maart 2023 het die vloei ‘n piek van 4 596 kumek bereik. Sy sê dit was die hoogste wat dit gemeet was ná die vloed in 2011, toe dit by 4 799 kumek gepiek het.

‘n Toestroming van besoekers na die Augrabieswaterval word oor Paasnaweek en die ander vakansiedae in April en begin Mei verwag.

Die hoë vloei in die Oranjerivier ontstaan weens die gekombineerde uitvloei vanaf die Vanderkloofdam en die Bloemhofdam.

Die Augrabieswaterval die afgelope week. Foto: Facebook/SANParks – Augrabies National Park

Op die Facebook-blad SA Dam Levels word aangedui dat die vlak van die Vaaldam teen Dinsdag met 2% gedaal het, en dat die Vaaldam 110,7% vol is. Oor die afgelope naweek was die vlak op 115%.

Volgens die departement van water en sanitasie (DWS) sou twee sluise van die Vaaldam Dinsdagoggend toegemaak word, wat die uitvloei sou verminder.

Die uitvloei vanuit die Bloemhofdam, wat blykbaar teen Dinsdag 99,62% vol was, word ook geleidelik verminder.

Dit neem egter ‘n paar dae voordat die water wat by dié damme vrygelaat word, die Augrabieswaterval bereik, met die piek oor die dae rondom Paasnaweek verwag.

Soos De Wet Theron, ‘n gereelde besoeker aan die Augrabieswaterval en inwoner van die omgewing in ‘n Facebook-plasing skryf: “Dis tyd om op te hou cumecs tel en oor vloeigetalle te worry en te kom kyk. Die skouspel is reeds hier … jou oë kyk nie in cumec nie, net in mooi, en dit is daar reeds genoeg van.”

  • Op ‘n Facebook-plasing op 17 April het Maasdorp geskryf dat die vloei 2 883 kumek is. Sy het ook geskryf: “Het jy geweet dat die watervloei in 1974 net oor die 8 000 kumek bereik het, en in 1988 ongeveer 7 800 kumek?”
  • Die 24ste jaarlikse Bloemhofdam Bonanza is weens die hoë watervlak van die Bloemhofdam na September uitgestel.
Die Augrabieswaterval die afgelope week. Foto: Facebook/SANParks – Augrabies National Park/Renee Meier Pieterse

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article