Vier gewapende rowers het Woensdagoggend omstreeks 05:30 by ’n huis in Kekewichrylaan in Kimberley ingebreek en ’n paartjie vir ’n halfuur lank aangehou. Foto: Christiaan Cloete

Christiaan Cloete

Vier gewapende rowers het Woensdagoggend (2018/11/07) ’n 12-malige Comradesatleet van Kimberley met die skoenveters van sy eie draftekkies vasgemaak en toe sy huis omgedolwe opsoek na goed om te steel.

Die voorval het glo omstreeks 05:30 in die oggend by ’n huis in Kekewichrylaan in Kimberley gebeur.

Gerhard “Skillie” Krüger (58), takbestuurder van Konica Minolta in Kimberley, en sy vrou Christa (59), ’n onderwyseres by Herlear Primary School in Kimberley, sê hulle het grootliks ongedeerd van die voorval afgekom maar is erg geskok deur die halfuurlange beproewing in hul slaapkamer.

Krüger en sy vrou vertel dat die mans hulle vroegoggend op die boonste verdieping van hul huis oorval het en toe met skoenveters en nylontoue vasgemaak en op die bed geboender het.

Volgens Krüger moes hy en sy vrou hulpeloos en vasgebind op die bed lê en toekyk terwyl die mans hul slaapkamer omdolwe op soek na goed om te steel.

Volgens Krüger het een van die rowers hom tydens die rooftog met ’n pistool op die agterkop geslaan.

“Hulle het my rewolwer se holster in my kamer gekry en my gevra waar is die vuurwapen.”

“Die vuurwapern was in die kluis gewees. Ek het gesê ek weet nie waar die vuurwapen is nie. Een van die mans het toe gesê: ‘Don’t lie to my you p**s!’” vertel Krüger.

Volgens hom het hulle toe die matras opgelig met die egpaar wat nog vasgebind op die bed gelê het en onder die bed gevoel.

Die rowers kon egter nie daarin slaag om Krüger se vuurwapen te steel nie. Krüger het dit later reggekry om die toue waarmee hy vasgebind was los te sny met’n klein mes in sy slaapkamer.

“Die ouens was nog in die huis. Ek het die onmiddellik gehardloop om die hek toe te maak want hulle het gesê dat hulle ons gaan kom skiet.”

“Ek het die polisie gebel. Die telefoon het drie keer gelui by 10111 toe tel hulle op.”

“Ek het vir die polisie verduidelik ons is by die huis met hoë muur,” vertel hy.

Krüger vertel dat die rowers onder meer ringe, selfone, ’n skootrekenaar, hangertjies, juweliersware, horlosies en ’n kamera gebuit het.

Die egpaar het teen laat Woensdagoggend nog probeer vasstel wat alles tydens die voorval gesteel is.

Volgens Krüger het die mans vermoedelik toegang tot die perseel verkry deur een van die sparre van hul palisadeheining te verwyder.

Daarna het hulle toegang tot die huis verkry deur diefwering van hul sitkamer af te breek en na die boonste verdieping van die huis gegaan.

Volgens Krüger het die mans hom ingewag toe hy vroegoggend gegaan het om ’n staalhek (wat na hul slaapkamer op die boonste verdieping van hul huis lei) gaan opsluit het.

“Hulle het vermoedelik om die hoekie gewag want toe ek oopmaak was hulle op my,” vertel hy.

Krüger het aan Noordkaap gesê hy vind dit vreemd dat die alarm nie tydens die rooftog afgegaan het nie maar wel afgegaan het toe die polisie daar aangekom het.

Krüger en sy vrou het nie honde nie maar wel twee katte.

Volgens Krüger is dit die vierde keer wat daar by die huis ingebreek word.

“Die vorige kere was ons nie hier gewees nie so hierdie keer was beslis die ergste,” vertel hy.

Volgens sy vrou het hulle onlangs ’n muur om hul huis laat oprig.

“My skoonma en skoonpa het laasweek hier by ons huis gekuier.

Hulle het Maandag teruggevlieg Johannesburg toe. Ek dank die Here dat daai twee oumense nie hier was nie,” sê hy.

Die egpaar se seun Quentin Krüger, wat in Bloemfontein woonagtig is, het gisteroggend van die Rosestad af deurgery toe hy van die voorval waartydens sy ouers beroof is te hore gekom het.

“Dit is die vinnigste wat ek al ooit van Bloemfontein tot in Kimberley gery het,” vertel hy.

Kapt. Olebogeng Tawana, ’n polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. Volgens hom is dit nie bekend in watter rigting die verdagtes gevlug het nie.

Die polisie het ’n beroep op mense met inligting rakende die voorval gedoen om met die ondersoekbeampte, konst. Itumeleng Frans, by 079 5111 626 of (053) 838-4200 in verbinding te tree.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article