Ek was ’n student aan die Universiteit Stellenbosch. Ek het ’n skootrekenaar nodig gehad, maar nie die geld gehad om een te koop nie.
My broer bied toe aan om vir my een van R6 000 te koop, maar het nog R1 000 benodig. Ek kon hom nie help nie, want ek het nie eens geld gehad om elke dag kos te koop nie.
My vriendin Ronelle van Uitsig kom kuier kort daarna vir my. Toe sy daar kom, gee sy vir my ’n koevert met R1 000 in. Sy het nie geweet ek kort ’n skootrekenaar of daardie bedrag geld nie.
“Dankie, maar ek kan dit nie vat nie,” sê ek.
Sy stry: “Dave, dit gaan nie hier oor jou nie. Ek het die Here gevra Hy moet my seën, dan sal ek drie mense – waarvan jy een is – seën. Laas Sondag het die Here my geseën. God het vir my deurgekom, daarom wil ek my deel van my belofte nakom. Dit gaan hier oor my en God. Ek wil net gehoorsaam wees.”
Ek het vir my broer die geld gestuur en my skootrekenaar gekry. God het voorsien. God het vir my deurgekom op ’n manier waaraan ek nooit sou dink nie.
Al is u in die donker, al sukkel u, al lyk dit asof God nie luister nie, wil ek vir u sê: God luister en sal vir u ook deurkom. Vertrou op Hom. Ek kan nie oor die goedheid van die Here stilbly nie. Moenie moedeloos word nie, want God sal op die regte tyd voorsien.
Bly maar net glo.



