Natasha Ingram (advertensiespanleier van NoordkaapBulletin) en Kenna Kutwane (verkoopskonsultant). Ingram is in Kathu gesetel, en Kutwane in Kimberley.

Foto: Dirk Kok Credit: SYSTEM

NoordkaapBulletin is op Sentraal24 se onlangse prysuitdeling met drie eerbewyse vereer.

Sentraal24 bestaan uit vyf van Media24 se gemeenskaps­koerante, naamlik Noordkaap­Bulletin, Bloemnuus en Express (Bloemfontein), Vista (Welkom en omgewing) en VrystaatKroon (Bethlehem en omgewing).

Die vyf koerante versprei weekliks na 73 dorpe en 174 woonbuurte, en is by 472 afsetpunte beskikbaar.

Altesaam 156 000 uitgawes word elke week in Johannesburg gedruk, vanwaar dit oor die wye sentrale streek heen versprei word.

Tydens die prysuitdeling, wat op 25 Maart in Bloemfontein aangebied is, is redaksie-, advertensie-, subkantoor- en bestuurslede vir hul prestasies in 2021 vereer.

Helena Barnard, redakteur van NoordkaapBulletin, is as Storiemaker van die Jaar en Digi Champ van die Jaar aangewys.

Natasha Ingram, advertensiespanleier van NoordkaapBulletin, is die naaswenner in die afdeling vir Beste Verkope.

Madré Marais, hoof­subredakteur by Sentraal24, is as Woordsmid van die Jaar aangewys.

Die subkantoor is vir die taalkundige versorging en uitleg van die koerante verantwoordelik.

NoordkaapBulletin, ’n tweetalige koerant, versprei na 23 dorpe, naamlik Barkly-Wes, Bloemhof, Boshof, Christiana, Daniëlskuil, De Aar, Douglas, Groblershoop, Hartswater, Hopetown, Jacobsdal, Jan Kempdorp, Kakamas, Kathu, Keimoes, Kimberley, Kuruman, Lime Acres, Olifantshoek, Petrusburg, Postmasburg, Upington en Warrenton.

Volgens die laaste kwartaallikse syfers van die Suid-Afrikaanse Ouditburo van Sirkulasie het NoordkaapBulletin die hoogste verspreidingsyfer van alle gedrukte koerante in die Noord-Kaap.

Op die prysuitdeling in Bloemfontein is van links Helena Barnard (redakteur van NoordkaapBulletin), Karen Herbert (groepredakteur vir Sentraal24) en Madré Marais (hoofsubredakteur vir Sentraal24).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article