Die bestuur en personeel van die Witsand-natuurreservaat tussen Griekwastad, Groblershoop en Olifantshoek gee na bewering nie genoeg aandag aan die onderhoud van die veld en buitegeriewe van die reservaat nie.
Die reservaat is bekend vir sy wit duine tussen die rooi duine, en die brulsand wat in hoë temperature brulgeluide maak wanneer toeriste daaroor loop.
Die behuisingsgeriewe val onder die departement van ekonomiese ontwikkeling, wat die bestaande eenhede bestuur en wie besig is om nog luukse eenhede te bou.
Volgens ’n ingeligte is die bestuurder en werkers wat na die veld en buitegeriewe moet omsien, onbetrokke.
“Dit kom nie voor of hulle veel aandag aan die oorgroeide paadjies en weggespoelde pad na een van die toeriste-attraksies gee nie. Intussen verval die park, wat veronderstel is om een van die beste reservate op pad na die Kalahari en Namibië te wees. Dit is ’n unieke reservaat en bied soveel vir die toeris. Dit is die provinsie se vlagskipreservaat met luukse wooneenhede en kampeergeriewe.
“Lang gras groei welig in die plaveisel aan die kante van die ingangspad. In die kampeerterrein groei die gras so ruig in die pad dat die houtpaaltjies onsigbaar geraak en toeriste hul voertuie kan beskadig. Die botaniese voetpad was lank oorgroei. Toe dit vinnig skoongemaak is, is die sandoppervlak onnet gelaat en gesnyde grasse nie oral opgetel nie, so asof iemand nie werklik omgee nie,” sê hy.
Die pad na die voëlkykskuiling by ’n watergat het vier maande gelede verspoel en is volgens die ingeligte nie herstel nie.
”
Hy sê die viertrekroete is oorgroei en toeriste is huiwerig om die paadjie met lang gras aan te durf omdat dit ’n brandgevaar vir die voertuigenjins inhou.
“Toeriste kom mos nie net om heeldag in ’n tent of chalet te sit nie. Hulle wil rondry en gaan stap.”
Die elektriese heining om die reservaat is reeds maande lank buite werking, wat ernstige sekuriteitsrisiko’s inhou, sê hy.
In hul antwoord sê die departement van landbou, landelike ontwikkeling en natuurbewaring, wat die fauna en flora van die park bestuur, hulle gee aandag aan die probleme.
Zandisile Luphahla, woordvoerder van die departement, sê hulle het die wandelroete en uitkykpunt naby die brulsand skoongemaak, wat vier dae geneem het.
“Die pad na die voëlkykskuiling sal so gou moontlik reggemaak word. Die toerusting wat benodig is, is reeds bestel. Die gedeelte van die pad wat weggespoel is, is met rotse toegemaak.
“Dit is ’n stadige proses omdat ons min toerusting het en elders werk moet doen. Die voëlkykskuiling en die nabygeleë uitkykpunt sal opgeknap word sodra die pad reg gemaak is.
“Ons sal mettertyd die gras in die plaveiselpad uithaal. Die elektriese heining gaan herstel word sodra die geil plantegroei weggesny en weggeneem word,” sê hy.





