Die Noord-Kaapse departement van paaie en openbare werke weet nie wanneer hy weer die R31-roete tussen Kimberley en Barkly-Wes gaan oopstel nadat dit Vrydagaand (22/04) net ’n paar uur oopgemaak is ná padherstelwerk nie.
Die rede vir die jongste sluiting was teen druktyd onbekend. Dit kom nadat die pad weens onlangse mildelike reën deur vloedwater oorstroom is. Dié betrokke padgedeelte by Wildebeeskuil langs Platfontein ondergaan padwerke op die plek waar ’n dam rioolwater die afgelope sewe jaar weens lekkende munisipale pypnetwerke gevorm en die pad se fondament verswak het.
Die departement het ’n maand gelede met ingenieurswerk begin waarin die padgedeelte met 1,5 m gelig sou word.
Dié ingenieurswerk is weens die vloed oorspoel. Die skade aan die herstelwerk en die pad is onbekend.
Crystal Robertson, departementele woordvoerder, sê hulle het grond en ander konstruksiemateriaal op die pad afgelaai om een rybaan te skep. Die verkeer word deur ’n stop-en-ry beheerstelsel reguleer. Sy kon nie sê hoekom die pad weer gesluit is nie.
“Ons is besig met die herstelwerk om die pad te lig. Die nuwe vloedwaterslote is reeds onderdeur die pad geplaas wat ’n vereiste is om die pad te lig en die skouers te verbreed.”
Sy het motoriste aanbeveel om die R374-roete deur Windsorton as ompad te gebruik.
“Ons is weens die verhoogde verkeersvolume besig om slaggate en gedeeltes waar die skouers afgetrap is te herstel. Ons is bekommerd oor die veiligheid van voetgangers en leerlinge van die Laerskool D.L. Jansen en Hoërskool Reakantshwe wat oor die pad na hul huise in Windsorton loop. Padtekens is opgerig om motoriste te waarsku om stadig en versigtig te bestuur.”
In Februarie het Busisiwe Mkhwebane, Openbare Beskermer, haar skok oor die riooldam wat die R31-pad bedreig uitgespreek. Sy het die plan om die pad te verhoog veroordeel en gesê dit is soos om ’n pleister oor ’n gapende wond te plak.
Sy het aangedring dat die oorsaak van die riooldam, die lekkende pypnetwerk en pompe van die Sol Plaatje-munisipaliteit, opgelos word.
“Die vervalle grootmaatinfrastuktuur moet vervang word. Die probleem is in 2002 geïdentifiseer en sou destyds R1 miljard kos om te herstel. Omdat dit nie destyds gedoen is nie, gaan dit nou R5 miljard kos,” het sy gesê.
Volgens Oupa Segalwe, OB-woordvoerder, is die verslag van dr. Zamani Saul, premier, nog nie ontvang nie. Daarin moet hy ’n dringende ingrypingsplan uiteensit om die oorsake op te los soos sy in Februarie versoek het.


