“As julle daarna streef om in die Verenigde Rugbykampioenskap uit te draf, moet julle wys julle het die vermoë om op daardie vlak te speel.”
Met dié boodskap het Pieter Bergh, Griekwa-afrigter, Saterdagaand (07/05) sy spelers op Loftus Versfeld bemoedig toe die Poubloues teen rustyd met 5 – 36 teen die toue was met die Bulle in die Curriebeker-reeks.
Griekwas het in die tweede helfte met groot vuur gespeel, en die Bulle moes teen die einde vir ’n vale keer om ’n sege van 48 – 38 te behaal.
Bergh het erken die intensiteit waarmee die Bulle – met verskeie spelers in die 23-tal wat die laaste tyd in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) diens gedoen het – losgetrek het, het hulle onkant betrap.
“Ons het nog nie dié seisoen teen ’n span te staan gekom wat met soveel intensiteit begin het nie.
“Baie van ons spelers het nog verlede jaar in die Varsitybeker-kompetisie gespeel, en vanaand is hulle aan rugby op ’n ander vlak blootgestel.
“Hoewel hulle die potensiaal het om in die VRK te speel, het ek vir hulle gesê hulle speel nie asof dit hul doelwit is nie.”
Bergh was verheug dat hulle in die tweede helfte 33 punte teenoor 12 kon aanteken.
Griekwas speel Maandag (16/05) in Bloemfontein teen die Suid-Afrikaanse o.20-span.
Puntemakers
- Drieë: Sango Xamlashe (strafdrie), Munier Hartzenburg, Hanru Sirgel (2) en Chris Hollis.
- Doelskop: Zander du Plessis (3).



