Die sowat 22 miljoen inwoners van Beijing werk steeds van die huis af in ’n poging om die nuwe vlaag van Covid-19-gevalle in dié stad te kniehalter.
In Noord-Korea, waar die eerste Covid-19-gevalle in April aangemeld is, het reeds meer as 2,5 miljoen inwoners die virussiekte onder lede.
In Suid-Afrika was daar teen Maandag (23/05) 57 471 aktiewe gevalle, waarvan 3 759 in die Noord-Kaap voorkom.
Melding word gemaak van die vyfde vlaag in Suid-Afrika – sommige voorspel dit vir vroeg Junie; ander sê die piek is reeds in digbevolkte dele verby.
Met of sonder virus, ’n mens voel in elk geval siek van enige gedagte aan ’n virus, die dra van maskers en die ontsmet van hande met ’n vuilgevatte spuitbottel by die trap-toestel wat nie meer werk nie.
Meld jy by ’n kantoor of onderneming aan, moet jy steeds – met ’n taaierige pen – die vorm invul waarop moontlike Covid-19-simptome aangemeld word. (Voel jy moeg? Ja, meestal. Koorsig? Ja, want ek het te warm aangetrek.)
Terselfdertyd wonder jy oor die doeltreffendheid van die toestel wat temperatuur meet, veral as dit die (lewendige) liggaamstemperatuur as 21° C aandui.
Intussen het die Wêreldgesondheidsorganisasie net verlede week aangekondig dat Afrika nie meer polio-vry is nie nadat die wilde poliovirus by kinders in Mosambiek en Malawi gevind is.
Ook is gevalle van aappokke sedert 13 Mei aangemeld in wêrelddele waar dit nie gewoonlik voorkom nie, soos Europa, Amerika en Kanada.
Hieroor waarsku die Verenigde Nasies dat stigmatisering van aappokke gesondheidsowerhede se reaksie daarop kan kniehalter.
Of dit nou weens stigma, onkunde, kwaksalwerkennis vanaf sosialemediaplatforms, onbevoegdheid of onbetrokkenheid is – iewers sal die mensdom deur sy doen en late veroorsaak dat die virus, enige virus, bly voortleef.

