Om ’n koffiewinkel te besit was altyd in Chrisna Rossouw se gedagtes. Toe laat die onverwagte aanbod om ’n geskenkwinkel oor te neem haar verbyster.
Binne ’n week ná die aanbod het dinge egter in plek geval, en 14 jaar later kom besoekers van heinde en verre om Blikaspaai Koffiewinkel & Mincah Gifts in Jacobsdal te besoek.
Sedert sy eerste dag is Blikaspaai op dieselfde plek langs die poskantoor geleë.
Terwyl sy nog gewonder het waarmee sy haarself sou besig hou, het sy die aanbod gekry om die geskenkwinkel oor te neem. Met ’n voorskot van haar man, Christo, en die hulp van ’n vriendin het dit haar werklikheid geword.
Die naam Blikaspaai is uit nood gebore in die tydperk toe artikels van blik hoogmode was en mense vir haar allerlei blikartikels aangedra het. Die winkel het met tien tafels en 30 stoele begin.
“In die beginjare het ek alles self gedoen, selfs vloere gewas. Daar was net nie geld om iemand permanent aan te stel nie,” sê sy.
“Ek het een en ’n half jaar lank alleen gewerk voordat ek die eerste personeel kon aanstel. Blikaspaai wil koester-oomblikke skep, en ’n verskil maak by mense wat ons besoek,” sê sy.
Besoekers het Blikaspaai al as ’n “inspirasie” beskryf, en dit is wat sy wil regkry. Chrisna beskou die monster-pizzas as hul spesialiteit, maar die tramezzini, burgers en koffie van varsgemaalde koffiebone is ook gewild.
Boonop is Blikaspaai bekend vir sy kookkos wat op ’n Woensdag bestel kan word, en die vetkoeke op ’n Vrydag.
Snoepborde is nog ’n spesialiteit, en Blikaspaai kry selfs bestellings uit Kimberley.
Sonder haar span sal die winkel nie kan bestaan nie, en hulle vul mekaar aan.
- Blikaspaai is weekdae van 08:00 tot 17:00 oop, en Saterdae van 09:00 tot 13:00. Stuur ’n WhatsApp-boodskap na 083-395-7410, of besoek die Facebook-blad Blikaspaai Koffiewinkel & Mincah Gifts.
- Blikaspaai het op NoordkaapBulletin se nuwe e-nuusbrief adverteer.





