Teen druktyd Dinsdag (07/06) was daar nog geen spoor van die vyfjarige Le-Virno van Wyk van die Skierlik-woonbuurt in Louisvaleweg buite Upington wat ’n week tevore op Dinsdag 31 Mei vermis geraak het nie.
Teen Dinsdag het die polisie die soektog voortgesit en uitgebrei. Sers. Omphile Masegela, polisiewoordvoerder, sê meer hulpbronne en mannekrag van provinsiale en distriksvlak is ingespan om die soektog te verskerp.
Le-Virno het Dinsdag ’n week gelede saam met sy niggie en vriende naby die treinspoor agter Skierlik gespeel. Toe die ander kinders huis toe keer, was hy nie saam nie en sy ma het teen 16:00 na hom begin soek.
Hommeltuie is onder meer in die soektog gebruik, en talle vrywilligers het hulle ook by die soektog aangesluit.
Die polisie het mense versoek om nie onbevestigde inligting op sosiale media te versprei nie.
Le-Virno het ’n geel T-hemp, mosterdkleurige langbroek en swart stewels gedra toe hy verdwyn het. Mense met inligting kan kapt. Koos van den Heever, bevelvoerder van die eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele oortredings (GKS) in Upington by 082-302-0442 bel.




