Die lewering van ’n huldeblyk op iemand se begrafnis is altyd ’n moeilike ding om te doen.
Dit is hoofsaaklik omdat dood seermaak en omdat ’n mens bewus is van die seer wat saam met so ’n huldeblyk gaan.
Tog kom uit huldeblyke soms net die mooiste getuienis van hoe iemand in sy of haar lewe vrug gedra het wat vir ander tot seën was.
Een van die mooistes wat ek nog beleef het, is gelewer op die begrafnis van ’n bejaarde ou dame vir wie ons almal baie lief was.
Haar waarde was inderdaad ver bo korale.
Haar man, toe 90 jaar oud, het toe sy op 88 sterf, gekies om self haar huldeblyk te doen.
Sy hele boodskap, ná 60 jaar van getroud wees, het gedraai rondom een sinnetjie.
Nie hy of sy kinders, nie vriende of familie, nie kerkmense of wie ook al het ooit oor haar getwyfel nie.
Sy was altyd net daar.
Wanneer hulle opgekyk het, was sy daar; wanneer hulle rondgetas het, was sy daar; wanneer hulle gewonder het, was sy daar.
Sy was net daar.
Altyd net daar.
Sy woorde was spesiaal.
Juis omdat ons almal haar só geken het.
’n Mens kry daardie mense oor jou lewenspad wat net daar is.
Wanneer jy jou oë opslaan, is hulle daar.
Dit is so kragtig en kosbaar en vol troos om te weet wie in jou lewe net altyd daar is.
Dit is ook die mense wat jy in jou lewe moet hou.
Solank jy kan.



