Hoewel sommige Noord-Kaapse distriksmunisipaliteite se oudit-uitkomste verbeter het, reageer die provinsiale en plaaslike regering nie bevredigend genoeg op ongewenste uitkomste om die ander munisipaliteite se lot te verbeter nie.
Dit is die mening van Tsakani Maluleke, ouditeur-generaal (OG), wat verlede week die 2020-’21-boekjaar se munisipale oudit-uitkomste bekend gemaak het.
“Die meeste munisipaliteite het swak oudit-uitkomste gehad en die getal munisipaliteite wat afwysende verslae gekry het, het nie verminder nie. Dit dui op swak leierskap wat nie op ons bevindings reageer nie.”
Volgens die OG is dit kommerwekkend dat slegs 65% van munisipaliteite hul finansiële state betyds ingedien het, waarvan net 17% van goeie gehalte was.
“Die munisipaliteite het weens ’n gebrek aan vaardighede konsultante teen R62 miljoen aangestel om van hul werk te doen. Dit het nie veel gehelp nie, omdat foute en ongeloofwaardige inligting steeds gekwalifiseerde uitkomste meegebring het.
“Munisipaliteite kon nie betroubare en bruikbare ouditbewyse van hul prestasies lewer nie. Inligting is uitgelaat wat op dienslewering betrekking het, wat tot verswakkende infrastruktuur bydra. Gevolglik betoog inwoners oor swak paaie of waterlekke.”
Volgens haar is munisipaliteite se finansiële gesondheid kommerwekkend.
“Ek twyfel oor die voortbestaan van 11 munisipaliteite. In sommige gevalle word 69% van skuld nie ingevorder nie. Begrotings van die volgende boekjaar word in die huidige een uitgegee, wat veroorsaak dat krediteurs soos Eskom nie betaal kan word nie.
“Die meeste munisipaliteite fokus op kontantvloei om salarisse te betaal en versaak hul plig om infrastruktuur te onderhou en dienste te lewer.
“Tans beloop salarisse gemiddeld 46% van die algehele inkomste. Gevolglik gaan infrastruktuur en dienslewering erg agteruit.
“Die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley het byvoorbeeld geen aanduiders om dienslewering te moniteer nie.”
By !Kheis kan diensverskaffers betaal word sonder dat werk verrig is, omdat ’n sekere module van die boekhoustelsel nie geaktiveer is nie.
Die OG se span het by 87% van munisipaliteite nie-mededingende en onregverdige verkrygingsprosesse bespeur, wat bydra tot onreëlmatige uitgawes van R1,1 miljard – teenoor die vorige boekjaar se R806 miljoen.
Sy het ’n gebrek aan regstellende stappe en optrede teen verantwoordelike partye benadruk.
“Die premier het voorheen gesê sy regering gaan stappe doen om interne beheer te versterk, infrastruktuurprojekte beplan en moniteer en verseker wetgewing word nagekom. Die speaker het ook onderneem om deur ’n spesiale forum die portefeuljekomitees, die premier se kantoor en ander oorsigkomitees te versterk.
“Departemente moet met plaaslike regering saamwerk. Leierskap moet die pas aangee, administrasie stabiliseer en bemagtig en aandring op streng voorkomingsmaatreëls. Waar verantwoordbaarheid ontbreek, moet streng opgetree word,” het Maluleke gesê.
Vorige beloftes
In sy eerste provinsiale rede as premier het Saul in 2019 gesê die provinsiale regering kan hom nie skei van die probleme van plaaslike regering nie.
“Munisipaliteite se uitdagings sluit in hoë vlakke van skuld aan waterrade en Eskom, die versuim om regeringstoelaes te bestee en swak finansiële bestuur. Gemeenskappe verloor vertroue in plaaslike regering en diensleweringsbetogings vermeerder.
“Munisipaliteite elders in die land wat deurgaans skoon oudits behaal, pas beste praktyke en stabiele leierskap toe. Ons sal die grondliggende oorsake in ons munisipaliteite sistematies bekyk en praktiese ingrypings doen om die oudit-uitkomste te verbeter.
“Die provinsiale regering sal ’n geïntegreerde ingrypingstrategie ontwikkel na aanleiding van die plaaslike regering-lekgotla in September 2019.”
’n Jaar later het Saul gesê om goeie bestuur op plaaslike vlak te bevorder en te handhaaf, is die vyf distriksmunisipaliteite en tien ander munisipaliteite geprioritiseer om verbeterde oudit-uitkomste te bereik.
“ ’n Span van senior verteenwoordigers van die kantoor van die premier, provinsiale tesourie, die departement van samewerkende regering (Cogta) en die Suid-Afrikaanse plaaslike owerheidsvereniging (Salga) het reeds dié munisipaliteite besoek.
“Op die plaaslike regeringsberaad sal uitdagings en beperkings wat dienslewering belemmer, verder bespreek word. ’n Ingrypingsplan om die toestand van ons munisipaliteite te verbeter sal ontwikkel word.”
Teen 2021 het Saul in sy provinsiale rede erken daar is vier groepe uitdagings wat munisipaliteite moet oorkom. Die eerste hiervan is bestuursuitdagings: politieke binnegevegte, inmenging en onstabiliteit, swak toesig en gebrek aan optrede. Ook diensleweringsuitdagings, soos versuim om dienste te verskaf, bestaan. Die derde groep uitdagings behels administratiewe kwessies, wat die hoë vakaturekoers van veral finansiële hoofde, ingenieurs, beplanners en omgewingspesialiste behels, asook swak strategiese leierskap. Finansiële bestuursuitdagings soos swak oudit-uitkomste, finansiële nood, hoë vlakke van onreëlmatige uitgawes en die goedkeuring van onbefondsde begrotings is die laaste groep uitdagings.
“Ons het ’n gesamentlike gekoördineerde ingrypingsplan ingestel om hierdie uitdagings deur die Operasie Skoon Oudit-plan op te los.”
Vanjaar het Saul gesê dat hy tevrede is met die verbetering in die Namakwa-distriksmunisipaliteit wat, soos drie ander distriksmunisipaliteite, ’n ongekwalifiseerde ouditverslag ontvang het.
“Ons teiken tien munisipaliteite om ongekwalifiseerde oudits te kry. Ons gaan Operasie Skoon Oudit versterk. Die regering werk saam met die spesiale ondersoekeenheid (SOE), die Valke, Cogta en Salga om korrupsie te ondersoek en uit te roei.”



