Rodger Adams, Tjaart van der Walt en William Villet staan op die krans bokant een groef met die ander gruisgroef agter hulle wat ná ’n buitengewone goeie reënseisoen vol water is.

Foto: Verskaf Credit: SYSTEM

Fonteine en waterare in en om De Aar vloei weer ná mildelike reënval die afgelope seisoen, met die watertafel so hoog dat selfs die mensgemaakte gruisgroewe buite die dorp vol water staan.

Die een groef was so vol water dat Tjaart van der Walt, ’n plaaslike abseil-geesdriftige, en sy mede-avonturiers die afgelope naweek van die kranse in ’n kajak moes neerdaal eerder as op vaste aarde.

“Dit was groot sports,” vertel hy.

Van der Walt sê die grootste groef is so vol soos met die 1988-vloed, met nog een byna op dieselfde vlak. Hy sê die watervlak styg steeds al reën dit nie nou nie. Die gruisgroewe is jare gelede gegrawe om doleoriet vir die bou van spoorlyne te verkry. Hy bly sedert 1983 in die dorp.

Terwyl die dorp se gemiddelde reënval 340 mm per jaar is, sê hy dat dit die afgelope seisoen meer as 650 mm gereën het. Die langdurige droogte is gebreek.

“Die gruisgroewe buite die dorp is gevul met reënwater en water wat ingevloei het, terwyl die grondwater ook opstoot.

“Die kranse waarteen ons abseil is 54 m hoog, en die grondvlak is onder water. Gevolglik moet van die spanlede onder in die kajak vir ons wag wanneer ons afkom en ons na die kant roei.”

Hy sê die water is helder skoon, hoewel hy onseker is of dit wel drinkbaar is.

“Die water is gemiddeld 15 tot 18 m diep; op die diepste plek is dit 32 m.”

Die ondergrondse water vloei ook in die dorp.

“Die fonteine in veral Waterdal, waar die kleinhoewes suid van die dorp is, borrel uit en water is oral. Wanneer ons beurtkrag kry, kan die grondwater nie uit die duikweg gepomp word nie. Dit is ’n rare verskynsel, wat ek nog nooit gesien het nie. Die water vloei in die Brak- en Ongersrivier na die Oranjerivier. Ek het verneem van damme wat lank droog was, wat vol water staan.”

Nog ’n inwoner sê daar is ’n fontein onder die munisipale gebou waar water uitvloei. Nog ’n verskynsel is grondwater wat in grafte in die begraafplaas in Nonzwakazi invloei ure nadat dit gegrawe is.

Cleon Lameyer en William Villet roei in ‘n kajak in die een gruisgroef buite De Aar wat ná ‘n buitengewone goeie reënseisoen vol water is.

Die gruisgroewe buite De Aar is vol reën- en grondwater, soos dit was na die vloed in 1988.
de aar

Die gruisgroewe buite De Aar wat jare lank droog was, is met helder water gevul na ‘n goeie reënseisoen.
de aar

Tjaart van der Walt en Rodger Adams maak gereed om teen die kranse af te abseil.
de aar

Die groep abseilers durf die kranse bokant ‘n gruisgroef aan. Die groewe is buite De Aar en staan vol reën- en grondwater.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article