Tog net nie weer nie! Dit is meestal die opmerking wat gemaak word wanneer aappokke genoem word.

Onlangs het die Wêreld­gesondheidsorganisasie (WGO) aappokke as ’n wêreldwye gesondheidsnoodgeval geklassifiseer.

’n Mens voel na moedeloos neerslaan by die aanhoor daarvan, want die trauma wat deur die Covid-19-pandemie veroorsaak is, is nog nie uit ons gemoed en geheue nie.

“Toemaar,” sê hulle (“hulle” ’n sambreelterm vir wetenskaplikes en betroubare mediabronne), “daar is geen rede om hieroor bekommerd te wees nie.”

Aappokke word as ’n “matige siekte” beskou, waarvan mense meestal ten volle herstel. Een mediese kenner sê burgerlike onrus bekommer hom veel meer as aappokke.

Ook ’n bekommernis is die aapstreke wat voertuigbestuurders uithaal. In Suid-Afrika met sy slaggatgevulde paaie is aankomende verkeer in baie gevalle gevaarliker as die slaggat self. Met die aanskoue van ’n slaggat swaai soveel bestuurders impulsief vir die gat uit – reg teen ’n aankomende voertuig vas.

Nog ’n groot bron van kommer is geslagsgeweld. Rapport se redaksionele kommentaar van Sondag (07/08) beskryf uitsprake teen geslagsgeweld soos ’n tafelgebed in baie huise: “Die rympie het sy betekenis verloor, maar jy durf nie nalaat om dit te doen nie.”

Is mooipraatjies jou enigste bydrae in Vrouemaand, word gevra. Ondersteun ’n skuiling vir vroue. Kry hulp vir ’n kwesbare gesin. Ruim ’n beboste gebied op waar booswigte skuil. Moenie vroue wat vir jou werk ná donker alleen laat huis toe stap nie, volg die raad.

“Sonder daadwerklike optrede om armoede te verlig, gemeenskappe op te hef en kwesbares te ondersteun, word uitsprake teen geslagsgeweld net betekenislose rympies.”

Met sulke woorde kan ’n mens saamstem, en hoop vir wysheid om in hierdie Vrouemaand werklik ’n verskil te begin maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article