’n Oggendteeparty saam met Martelize Brink en Nicqie Robinson kan op 27 Augustus om 10:00 as deel van die Yonder Hartsfees bygewoon word.

Foto’s: Verskaf Credit: SYSTEM

Vanjaar se Yonder Hartsfees gaan uit sy nate bars.

Só sê Jannie van Zyl, direkteur van die Noord-Kaaplandse Geestesgesondheids­vereniging, oor die fees wat van Donderdag 25 Augustus tot Sondag 28 Augustus in Kimberley aangebied word.

Navrae wat uit die publiek ontvang word, is ’n aanwyser dat gemeenskappe honger is vir ’n aangename kuiergeleentheid en om rustig met familie te ontspan.

Die toegangsgeld is so billik moontlik gemaak sodat almal die geleentheid het om die fees by te woon, sê Van Zyl.

’n Gesinspakket kos R500. Dit bestaan uit kaartjies vir twee volwassenes en twee kinders. Die pakket bied toegang vir die duur van die fees. Dit sluit vertonings uit.

Die dag-tot-dag toegangsgeld is soos volg:

  • Op die Donderdag betaal volwassenes R50 per persoon en kinders R30 elk.
  • Op die Vrydag en Saterdag betaal volwassenes R60 per persoon en kinders R30 elk.
  • Sondag betaal volwassenes R50 en kinders R30.

Die vertonings is so saamgestel dat dit in almal se smaak sal val. Toegang tot elkeen van die vertonings kos R200 per persoon, en dit dek ook toegangsgeld tot die terrein.

Al die kaartjies kan op iTickets.co.za gekoop word, wat dit baie gerieflik maak.

Hou die pamflette en plakkate dop en kry ook inligting op die Facebook-blad Yonder Hartsfees. Die volledige program is ook op dié blad beskikbaar.

Die doel van die Yonder Hartsfees is om geld in te samel om die programme wat aan mense met spesiale behoeftes gebied word, volhoubaar te bedryf. Tans is ’n kombuis en eetsaal in beplanning om die 700 etes wat daagliks voorberei word te hanteer.

Yonder is ’n program van die Noord-Kaaplandse Geestesgesondheidsvereniging, wat sedert 1966 dienste aan volwassenes met ’n intellektuele gestremdheid lewer. Die behoefte is deur die maatskaplike werkers van die organisasie identifiseer, en die sentrum is tot een van die grootste van sy soort in die land uitgebou.

Daagliks word 260 mense met spesiale behoeftes in 12 verskillende vaardighede opgelei. Die doel is om hulle só op te lei dat hulle in die ope arbeidsmark ’n geleentheid kan kry om ’n inkomste te verdien.

Altesaam 210 mense met ’n spesiale behoefte woon op die terrein en daar word in al hul behoeftes voorsien.

’n Professionele verpleegster sien in ’n primêregesondheidsorgkliniek op die terrein na hul mediese behoeftes om.

By Yonder word daar aan ’n verskeidenheid buitemuurse aktiwiteite, soos sport, talentaande, dansgeleenthede, ’n jaarlikse bal en ’n Valentynsaand deelgeneem.

Godsdiens speel ’n belangrike rol, en Bybelstudie word Woensdagaande aangebied en kerkdienste Sondae.

“Kom neem deel aan die Yonder Hartsfees en wys aan die hele Suid-Afrika dat Kimberley en sy mense omgee,” nooi Van Zyl.

Nicqie Robinson

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article