Honderde grootflaminke en ander watervoëls het op ’n nie-standhoudende pan op ’n wildsplaas van Trevor Datnow van Marrick Safari buite Kimberley neergedaal.
Dit is danksy die afgelope buitengewone reënseisoen. Boonop is dit in teenstelling met ’n jaar gelede toe sy plaas groot skade in verwoestende brande opgedoen het.
Datnow sê hy het meer as 1 200 mm reën sedert Oktober gehad, meer as drie keer die gemiddelde reënval. Hy het nog nooit soveel reën gehad in die 30 jaar wat hy op die plaas bly nie.
”Die reënbuie wat van Oktober neergesif het, het nie opgehou tot in Junie nie.
“Dit was gereelde deurdringende buie, anders as die gewone donderstorms waarna die pan sommer vol water is. Die water in die pan is nie diep nie, maar blywend, want die grond is versadig. Ek kon my oë nie verlede week glo nie toe ek eers twee of drie grootflaminke sien, toe 100 en die dag daarna meer as 250.
“Die ander watervoëls is net so indrukwekkend, soos die geelborsstrandkiewietnes wat ek ontdek het.”
Hy het dadelik sy langlenskamera uitgehaal en sy trefferfoto’s van die flaminke op sosiale media geplaas. Sy versameling voëllewe-boeke is altyd in sy voertuig waarna hy verwys wanneer hy in die veld ry. Hy sien gereeld nog die gevlekte ooruilkuikens wat pas leer vlieg het.
“Die grootflaminke vreet smaaklik aan brachiopoda skaal- en weekdiere wat aangepas is om in ekstreme pan-toestande te oorleef en vinnig voort te kan plant sodra daar water is. Dit is ook wanneer die voëls in hul honderde opdaag.
“Ek verwag sodra die groen alge begin groei, gaan die kleinflaminke ook kom. Daar is bitter min kleinflaminke op Kamferdam aan die ander kant van Kimberley, waar die water te diep is vir hulle om by die alge uit te kom waaraan hulle vreet.”
Datnow vermoed die lede van die Gariep-voëlklub gaan binnekort met hul kameras en verkykers op sy plaas opdaag om hulle aan die watervoëls te verwonder.





