Boegoebaai

Credit: Helena Barnard

baai

Boegoebaai

Transnet het die enorme ambisie om binne vier jaar die Boegoebaai-hawe noord van Port Nolloth in bedryf te hê.

Transnet nooi hawe- en spoorlynontwikkelaars om aan ’n versoek om kwalifikasie (RFQ) vir die ontwerp, finansiering en die bou van die beplande hawe en die gepaardgaande spoorinfrastruktuur deel te neem.

’n RFQ is ’n proses wat gewoonlik gevolg word voordat ’n versoek om voorstelle as deel van ’n tenderproses uitgereik word om die belangstelling en kundigheid te toets en vas te stel watter maatskappye sal kwalifiseer om aan ’n finale tenderproses deel te neem.

Magenthran Ruthenavelu, programdirekteur van die Transnet Nasionale Haweowerheid (TNPA), het begin Augustus gesê dié inligting word benodig sodat die instelling die weg kan baan vir sy strategiese doelwit om teen 2026 ’n hawe in die gebied in bedryf te hê.

Die Boegoebaai-hawe is deel van ’n ambisieuse projek van die regering in oorleg met Sasol om ’n aanleg vir die produksie van waterstof aan die Noord-Kaapse kus te bou.

Die plan is om die ruim sonkraghulpbronne in die Noord-Kaap as kragbron vir die aanleg te benut sodat die vervaardigde waterstof as “groenwaterstof” op internasionale markte verkoop kan word.

Die gepaardgaande spoorlyne moet die hawe verbind met die mynbedrywighede in die provinsie, en spesifiek die mangaan­uitvoerders, het Ruthenavelu gesê.

“Benewens die katalitiese effek wat ’n nuwe hawe en spoorinfrastruktuur op die plaaslike ekonomie kan hê, kan die belegging ook ’n bykomende kostedoeltreffende uitvoerkanaal vir mangaanmyne in die provinsie wees.

“Dit sal welkome verligting gee aan opkomende myne wat tans deur die hoë koste van padvervoer beperk word en wat weens kapasiteitsbeperkings nie toegang tot huidige uitvoerkanale het nie,” het Ruthenavelu gesê.

Weens kabeldiefstal en ander probleme wat Transnet Freight Rail verhinder om al die erts per spoor te vervoer, word mangaanerts tans meestal per vragmotor uit die Noord-Kaap na die hawens van Gqeberha en Ngqurha in die Oos-Kaap vervoer.

Die TNPA het al in 2015 ’n aanvanklike voor-uitvoerbaarheidstudie oor ’n nuwe hawe begin en in 2019 het die Noord-Kaapse departement van vervoer sy eie uitvoerbaarheidstudie gedoen.

Voorlopige voorstelle oor ’n spoorlyn van minstens 550 km om die hawe met myngebiede te verbind, wissel van ’n spoorlyn wat via Gamsberg by Kenhardt by die Sishen-Saldanha-ysterertslyn aansluit, tot ’n spoorlyn na Kakamas en Upington, ’n spoorlyn wat tot by Prieska strek of ’n spoorlyn kuslangs om suidwaarts by Bitterfontein en verder by bestaande spoorlyne aan te sluit.

Transnet se ontwerpvereistes vir die hawe sluit in dat dit sowel losmaatvrag, droë vrag, vloeibare produkte soos diesel en groenwaterstof, veeldoelige vrag en houervrag sal kan hanteer.

Daar moet ook skeepsherstelgeriewe wees.

– Netwerk24

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article