“Ek wonder of jy geweet het hoe lief ons vir jou is,” is deel van ’n brief wat voorgelees is op die begrafnis van iemand wat selfdood gepleeg het.
’n Goeie vriend stuur onlangs vir my ’n video van een van Elvis se laaste optredes.
Sy gesondheid is duidelik nie goed nie en hy hyg hier en daar na sy asem terwyl hy sing.
Ek wonder of hy werklik bewus was van hoe gewild en bemind hy was.
Ek twyfel.
Terselfdertyd wonder ek in hoeveel van ’n mate dit ’n verskil in sy lewe sou maak as hy dit wel besef het.
Die meeste mense stoei om ’n bestaan te maak.
Daar is soveel uitdagings op soveel verskillende gebiede. Werksgewys. Finansieel. Emosioneel. Fisiek, wat gesondheid betref.
Die gemiddelde mens het mense wat vir hom of haar lief is. Dalk meer as wat dié een besef.
In watter mate sou dit ’n verskil in so iemand se lewe maak dat hulle wel hiervan uitvind?
Ons jaag so dat ons dalk net iewers in die verbygaan sê dat ons vir iemand lief is. Dalk net aanvaar dat iemand weet dat ons vir hom of haar lief is.
Dit kan enige soort liefde insluit.
Kom vandag ’n oomblik tot stilstand en maak seker die mense in jou lewe besef werklik hoe lief jy vir hulle is.
Moenie wag totdat dit te laat is nie. Sê dit vandag: “Ek wonder of jy weet hoe lief ek vir jou is.”



