Die Presidentsverkenner-eerbewys is ’n nasionale eerbewys vir kulturele leierskap wat deur Die Voortrekkers toegeken word.
Gr. 12-lede van dié kultuurbeweging, verwerf die Nasionale Presidentsverkenner-eerbewys nadat hulle aan die verskeie vereistes van die Presidentsverkenner-proses voldoen het.
Die proses sluit die bywoning van ’n aantal gebiedskampe, die voltooiing van spesialisasies en take, goeie getuigskrifte van die skool, kerk en Voortrekkerkommando, asook ’n vereiste aantal jare diens in Die Voortrekkers in.
Voorts moet die lede die teoretiese eksamen in April slaag, en die Nasionale Presidentsverkenner-webinaar in Julie bywoon.
Michael van Zyl, ’n gr. 12-leerling aan die Hoërskool Duineveld het dié eerbewys by Die Voortrekkers se Olyvenhoutsdrift-kommando in Upington ontvang.





