Vir ’n tweede agtereenvolgende jaar is ’n tienertoneelproduksie van die Hoërskool Martin Oosthuizen (HMO) van Kakamas as die beste by die Hoërskool Dramafees in Kaapstad aangewys.
Skaakmat, HMO se produksie, is nie net as vanjaar se wenner aangewys nie, maar het ook die prys vir die beste teks ontvang, en ook benoemings vir beste regie, beste akteur, beste aktrise en beste ensemble.
Die produksie sal volgende jaar in die jeugteaterprogram van die Suidoosterfees se Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi) ingesluit word.
Verlede jaar was HMO die wenner met hul produksie, Neer daal die reën.
Die Hoërskool Dramafees word jaarliks deur Kunstekaap en die Suidoosterfees aangebied. Agt skole van oor die land heen het van 18 tot 20 Augustus aan die eindronde deelgeneem.
Die Suidoosterfees-direksievoorsitter, prof. Brian Figaji, was beïndruk met die gehalte van inskrywings.
“Buiten die uiteenlopende temas wat gedek is, was die toneelspel uit die boonste rakke. Ook die tegniese versorging van die stukke was puik,” sê hy.
Dit blyk dat HMO se toneelstuk aan sy naam gestand doen en ander produksies by talle feeste skaakmat gesit het.
Op 18 Augustus is Skaakmat as die beste produksie tydens die Namakwalandfees aangewys, en het boonop die volgende eerbewyse ontvang: beste regie (Barnie Mans), beste akteur (Zander Oberholster), beste aktrise (Danelle Jacobs) en beste nuwe teks (Alae Hanekom).
Skaakmat het ook tydens die Fraserburg Logan-toneelfees aan die begin van Augustus, die prys vir beste aktrise en beste teks gewen. Die stuk is ook benoem vir beste akteur, beste regie, beste produksie, beste tegniese aspekte en beste ensemble.
Tydens die aanbieding van die Vrystaatstreek se ATKV-tienertoneelfees in Bloemfontein het Skaakmat die eerbewys vir beste akteur en beste tegnies versorgde produksie ontvang, en ook benoemings vir beste aktrise, beste regisseur, beste ensemble en beste verhoogbestuurder.
“Benewens al dié feespryse het die skool se vier produksies ’n totaal van 14 brons, 18 silwer en 15 goue eerbewyse tydens die Namakwalandfees verwerf,” sê Mans.
Mans, departementshoof en dramaregisseur by HMO, vertel hy en Hanekom is albei oudleerlinge en voormalige akteurs van die skool.
Albei het onder meer ’n graad en ander kwalifikasies in drama en onderwys.
Danelle is ’n gr. 11-leerling, Zander is in gr. 10, en albei spog reeds met talle vorige eerbewyse.




