Ontmoet die reus – die titan – in jouself tydens ’n uitdaging in die Titans Chase-avontuurreeks wat volgende naweek by Christiana plaasvind.
Hierdie hardloop-hindernisbaanuitdaging by Oewerkuier langs die Vaalrivier is vir volwassenes en kinders geskik en vind op Saterdag 17 September plaas.
Drie lesers van NoordkaapBulletin het boonop ’n kans om dubbelkaartjies vir deelname te wen.
“Dit gaan nie daaroor om vinniger of fikser te wees, of selfs om meer ondervinding te hê nie. Dit gaan daaroor om saam ’n hindernis te oorwin. Jy sal nie alleen wees nie,” vertel Ricardo Gressel, Titans Chase-verteenwoordiger en seremoniemeester.
“Jy is daar saam met ’n broer, vriend, suster, vreemdeling. Dit gaan oor hoe ’n uitdaging met wedersydse ondersteuning oorwin word.
“Jy ding nie teen ander mee nie, maar teen die titan in jou.
“Dié geleentheid vir avontuur- en buitelewe-aktiwiteit het ook ten doel om die gemeenskap te ondersteun en die gebied te bemark.
“Christiana het potensiaal, en titans kan mense vra om by te dra, om skoon te maak en te help, alles vir ’n beter toekoms.
“Daar is hindernisse in die lewe wat baie moeiliker is om te oorkom as ’n wedren, en jy kan ’n titan in jou gemeenskap wees,” sê Gressel.
Die Titans Chase-avontuurreeks, met ’n vinnige pas, is vir nuwelinge, asook ervare deelnemers aan wedlope, geskik.
Durf die 5 km, 10 km of Tiny Titans-baan aan
Die verskillende afdelings is:
- die “War Hammer Chaser”, ’n 5 km-hindernisren vir ’n individu;
- die “War Hammer”, ’n 5 km-hindernisren vir spanne van twee tot tien deelnemers;
- die “Beast Chaser”, ’n 10 km-hindernisren vir ’n individu;
- die “Beast”, ’n 10 km-hindernisren vir spanne van twee tot tien persone; en
- “Tiny Titans”, geskik vir kinders ses tot 15 jaar oud.
Tydens die naweek sal vermaak, verblyf in tente en maaltye beskikbaar wees.
Om in te skryf, besoek entryninja.com/events/78035-titans-chase-adventure-series. Inskrywings vir “Tiny Titans” kan die Saterdag gedoen word.
Registrasie begin om 06:30 by Oewerkuier.
Vir meer inligting oor deelname en oor verblyf, besoek titanschase.co.za of die Facebook-blad Dare to be a Titan.
- Om ’n kans te staan om een van drie dubbelkaartjies vir deelname te wen (vir individuele of groepdeelname), stuur jou naam, van en kontaknommer voor of op Maandag 12 September om 10:00 na noordkaap@media24.com. Vertel ook in ’n sin of twee waarom jy graag sal wil deelneem.






