King Bakang Seinolo, wat pas die teoretiese gedeelte van sy studies in toerismebestuur voltooi het, het die afgelope Saterdag (03/09) drie van sy dosente aan stoomtreine en die moontlikhede wat dit vir toerisme-bevordering en werkskepping inhou, voorgestel.
Hy is ’n student op die Phatsimang-kampus in Galeshewe, wat een van die kampusse van die Northern Cape Urban TVET College is.
Seinolo het ook sy ma, ouma en jonger broer saamgebring om die ysterreuse in Beaconsfield te bewonder.
Hy en Peter Odell, voorsitter van die Steamnet 2000-klub, het een van die stoomlokomotiewe na Seinolo se meisie, Luci-ann Zee Korke, vernoem. Sy was onbewus van die eerbetoon, en was uiters verras toe die naam onthul is. Sy het almal bedank wat die verrassing help reël het.
Seinolo het ook saam met Odell en ander geesdriftiges die Sianni-stoomlokomotief in die Beaconsfield-depot aangesteek om die meganika na te gaan om ‘n veiligheidsertifikaat te bekom.
“Ek is op soek na geleenthede vir indiensopleiding om my diploma te verkry,“ sê Seinolo.
“Dit sou wonderlik gewees het as die Noord-Kaap sy eie werkende stoomtrein met toeriste aan boord gehad het waarop ek kon werk. Die lokomotief bied natuurlik ook geleenthede vir indiensopleiding vir vakmanne soos ketelmakers en ingenieurs.
“Ons het die lokomotiewe en die landskap wat toeriste kan bewonder. Dit is verstommend om te dink dat ons kinders, veral in die townships, glad nie weet hier is ou treinwaens of pragtige lokomotiewe nie. Hulle sien treine net op TV sonder dat hulle al ooit self op enige trein in hul lewe gery het,” sê Seinolo.
Sy drie dosente, Masego Matlhaba, Siyanda Dyonase en Siphosethu Saliwa, wat nog nooit ‘n stoomlokomotief in stoom gesien het nie, was in vervoering. Hulle het ook ‘n skenking aan die klub gemaak.
Dyonase sê as die regeringsdepartemente en die toerismesektor saamwerk om die voorstel om stoomlokomotiewe in die Noord-Kaap te laat ry, kan toerisme groot geleenthede vir studente en oorsese toeriste bring.
“Ons het sowat 250 toerismestudente, van wie baie hul indiensopleiding op die trein kan doen.”
Matlhaba was in vervoering oor die ysterreus.
“Ek het nog nooit so iets gesien nie, nog minder het ons studente. Ek besef weer eens hoe ryk Kimberley aan geskiedenis is, en hoe toeriste dit kan geniet. Dit is een van die min plekke in Afrika waar stoomtreine is. Dit bied ‘n buitengewone en spesiale belewing soos geen ander nie aan toeriste.”
Odell sê hulle het die lokomotief se werking getoets en probleme met ’n reguleerder ervaar, wat reggestel is.
“Die lokomotiewe moet veilig wees om sertifikate te bekom. Dit kos egter baie geld om die lokomotief aan te steek. Niemand skenk vir ons geld nie, en al minder mense werk naweke saam met ons om die lokomotiewe in stand te hou.”
Hy het die Noord-Kaapse regering en amptenare van die departement van finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme al vele kere genooi om na die lokomotiewe te kyk. Hy wou moontlikhede met hulle bespreek dat die stoomlokomotief op sekere Noord-Kaapse spoorlyne kan ry. Hy is al moedeloos oor die gebrek aan belangstelling.
“Ons het twee lokomotiewe, maar die rytuie moet opgeknap word, wat geld kos. Die moontlikhede vir toerisme wat vele werksgeleenthede en geleenthede vir entrepreneurs inhou, is oneindig.”
Hy sê as elkeen van die 20 of 30 mense wat Saterdag na die lokomotief gekyk het, ‘n skenking kon maak, sou dit baie gehelp het om onderdele en steenkool te koop, wat baie duur is.




