Borgtog is vandeesweek in die landdroshof in Boshof toegestaan aan ’n man en ’n vrou wat glo ’n plaaslike slagplaas met meer as R900 000 bedrieg het.

Warren William Bruce (36), Leandri Oosthuizen (30) en Bruce se maatskappy, De Bingos Self-services CC, word beskuldig van bedrog, vervalsing en oortredings van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies.

Bruce en Oosthuizen het eergister in die hof verskyn, waarna hulle op borgtog van R2 000 elk vrygelaat is.

Bruce en Oosthuizen het hulle Maandag (05/09) aan die polisie oorgegee en dieselfde dag in die hof verskyn.

Volgens kapt. Cristopher Singo, woordvoerder van die Valke in die Vrystaat, het hulle na bewering gedurende Junie 2018 en Julie 2020 deur Bruce se maatskappy vleis by die Boshof-slagplaas gekoop. Met die aankope is bedrieglike fakture glo met behulp van Oosthuizen, ’n werknemer van die slagplaas, geskep om Bruce in staat te stel om die vleis te koop.

Singo sê voorts word beweer dat Oosthuizen ander werkers by die slagplaas opdrag gegee het om die vleis sonder ’n bewys van betaling aan Bruce te verskaf.

Die slagplaas het glo weens hierdie beweerde optrede ’n verlies van meer as R900 000 gely.

Die saak is by die Valke aangemeld vir verdere ondersoek.

Hulle verskyn weer op 20 Oktober in die hof. – Netwerk24

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article