Die berugte treinbrug in Schröderstraat, Upington, het in Lentemaand reeds twee vragmotors “gevang”.
Schröderstraat is deel van die N14. Dié hoofstraat met die duikweg onderdeur die treinbrug is die kortste roete deur die dorp en word as sulks op talle GPS-toepassings aangedui.
Ongeag verskeie waarskuwingstekens aan weerskante van die brug, wat 3,6 m hoog is, ry vragmotorbestuurders steeds aan, met ’n hoë vragmotor wat aan die brug vashaak.
Dit lei tot uiterse ongerief, verkeersopeenhopings en koste vir vragmotorbestuurders en veral -eienaars.
Patrick Williams, woordvoerder van die Dawid Kruiper-munisipaliteit, het voorheen gesê ’n skulderkenningsboete van R2 500 is boonop ter sprake.
Henk van der Merwe, sake-eienaar en betrokkene by #TrotsUpington, sê hulle raadpleeg verskeie betrokkenes om die knoop deur te hak vir groot en duidelike waarskuwingstekens vir die staalraam oor die pad, uit Olifantshoek se rigting.
“Hierdie borde sal baie duidelik sigbaar wees en sal ook in die nag verlig word.”
Van der Merwe beklemtoon egter dat dit nog aan die uiteindelike goedkeuring van die Dawid Kruiper-munisipaliteit onderhewig is.





