Dit was die lisensieskyf op Elzabie Brand se gesteelde silwer Mazda CX-5-voertuig met die vals Noord-Kaapse nommerplate wat die vier insittendes se geheim aan die polisie verklap het.
Só het sers. Stefaans Mangate Donderdag (08/09) in die hooggeregshof in Kimberley in die moordverhoor getuig waarin vier aangeklaagdes tereg staan op die ontvoering en moord op Dan Brand, sy vrou, Breggie, en hul dogter Elzabie Brand op 26 Julie 2020 in Hartswater.
Die staat voer aan die aangeklaagdes het vir Brand, sy vrou en hul dogter vanaf hul perseel in Mogogong in Hartswater ontvoer en vermoor. Verskeie van hul besittings en twee motors, ’n rooi Nissan Micra en ’n silwer Mazda CX 5, is ook gesteel.
Die beskuldigdes is Donald Seoleseng (21), Tshepo Visagie (36), Kgomotso Mpulwana (43) en Tsepaone Melato (20). Die aangeklaagdes word van regsverydeling aangekla omdat hulle die lyke in Taung versteek het om die moord te verdoesel. Seoleseng word ook van ontsnapping aangekla. Visagie het na bewering op 26 Julie ’n skootrekenaar en selfoon wat aan die oorledenes behoort het, verpand.
Mangate en sy kollegas het die aand van 27 Julie ’n silwer Mazda-voertuig wat in die rigting van Taung gery het, opgemerk. Die motor het egter Noord-Kaapse nommerplate gehad, en nie Gautengse nommerplate soos Elzabie se kar nie. Op ’n tydstip het die motor afgetrek, die bestuurder het uitgeklim en geloop. Mpulwana het agter die stuurwiel ingeklim en aangery. Die polisie het ’n berig ontvang en toe die Mazda van die pad afgetrek.
Melato het uitgespring en weggehardloop waarna ander polisielede hom agterna gesit het.
Mangate het die lisensieskyf op die motor nagegaan en besef dit is Elzabie se motor wat in Gauteng geregistreer is. Hy het die vier verdagtes in die motor gevra wie se motor dit is, maar is met swye begroet. Mangate het Mpulwana se selfoon bekyk. Daarop was foto’s van haar, maar in die WhatsApp foto-album was foto’s van die Brand-gesin. Daar was ook twee selfone, USB-geheuestokkies, rekenaarluidsprekers en ’n skootrekenaar in die kar. Die ander verdagtes het ook hul selfone oorhandig en wagwoorde gegee, wat bevestig het dit is hul fone. Een van die verdagtes het ook gesê die man wat vroeër uitgeklim het, was ene Tsepo (Visagie, wat die volgende dag in Taung aangekeer is). Op ’n vraag waar die oorledenes is, het Realeboga Manyedi (20), teen wie die aanklagtes teruggetrek is, geantwoord dat Elzabie nog lewe maar die ander twee nie. Hy wou die polisie gaan wys waar Elzabie is.
Almal is in hegtenis geneem en na die polisiekantoor gebring.
Mangate het in kruisondervraging ontken dat skote daardie aand langs die pad afgevuur is of dat Melato en Seoleseng, wat later die nag van die selle ontsnap het, aangerand is.
Sers. Altus Coetzer het getuig dat hy ook die betrokke aand by was toe die Mazda afgetrek is. Toe Melato weghardloop, het hy hom etlike kere gewaarsku om stil te staan. Toe hy aanhou hardloop is die polisiehond op hom losgelaat. Sy uitroep het bevestig dat die hond hom onder ’n bos beetgekry het, waarna hy in hegtenis geneem is.
Die verhoor duur voort.




