“A wonderful gift may not be wrapped as you expect.” – Jonathan Lockwood Huie
Kinderlike verwagting oor geskenke het oor die jare in dankbaarheid verander.
Dekades gelede sou ek en my broer weke voor Kersfees Dions of ander supermarkte (daardie tyd was daar nie spesiale baba- en speelgoedwinkels wat ek kan onthou nie) se bylaes voos blaai.
Ons het ’n begroting gehad, en die wenslys moes daarby aanpas.
Die lys van geskenke het daagliks verander. Die karretjie is geruil vir daardie een, die opblaasboot vir die swembad vir ’n netbalbal. Ek dink die ure wat ons bestee het om pamflette deur te blaai om oor geskenke te droom was lekkerder as die geskenk self.
Ons was bederf; al twee het geskenke op mekaar se verjaardae gekry sodat die ander een nie afgeskeep voel nie. Dit het weer sy eie probleme meegebring. Dan was daar die kinderpartytjies en die geskenke wat jy self ontvang, of aan maatjies moes gee. Gelukkig was dit destyds nie so gekompliseerd soos vandag dat elke kind ’n geskenk moet kry nie.
Die belangrikheid van geskenke het gelukkig met tyd afgeneem.
Daar is te veel goeters in donker kaste wat na asem snak wanneer ek die deur oopmaak.
Dis ’n verligting om hope linne en tafeldoeke, kristalglase en mandjies vol goeters, gereedskap en meubels te skenk aan jong getroudes wat huis opsit.
Geskenke moet gekoester word.
Of dit nou geld namens jou aan die DBV is, ’n blom uit jou tuin, ’n baksel beskuit of dalk ietsie wat lekker ruik.


