Die skietsaal met alleenstaande teleskope langs die skuts. Hulle kyk hiermee na die teiken om te sien hoe na hulle aan die kol was.

Foto: Verskaf Credit: SYSTEM

Die drie Kimberliete wat vir die Noord-Kaapse luggeweerskietspan gekies is, is van links Marco Olivier en Marnus de Klerk (altwee van die Hoërskool Diamantveld) en Ian Mandy (Hoërskool Noord-Kaap).

Altesaam 23 Noord-Kaapse luggeweerskuts is op pad na die Suid-Afrikaanse nasionale skoleskuttersunie se nasionale kampioenskappe.

Die kampioenskappe word van 2 tot 6 Oktober by die Randburg-sportkompleks gehou. Altesaam 432 skuts van die verskeie provinsies sal aan die kampioenskap deelneem.

Gerhard Olivier, voorsitter van die Kimberley-luggeweerskietklub, sê hy is baie trots.

“Ons plaaslike klub het die eindronde op 19 en 20 Augustus by die Horseshoe Inn aangebied. Supersport Skole het dit regstreeks gestroom, wat ’n eerste vir die sportsoort is. Dit het ook baie belangstelling meegebring.
Gerhard Olivier

“Die sportsoort toon die afgelope vier jaar weer ’n oplewing in Kimberley. Ons klub bestaan uit leerlinge van verskillende skole in die stad. Altesaam 46 skuts het by die provinsiale kampioenskap meegeding. Hulle was onder meer van die Hoërskool Kalahari, Duineveld, Upington, Noord-Kaap, Diamantveld, Elizabeth Conradie, Laerskool Oranje-Noord en Hotazel Kollege.”

Die skuts wat aan die nasionale kompetisie gaan deelneem is Nalet Maass, Zanru Broodryk, André du Rand, Johan Serfontein, Maricel Jordaan, Delary Saaiman, Rique Slabber, Martin Kotzé, Nicol Pietersen, Fouché van Niekerk, Marnus de Klerk, Janko Botma, Marco Olivier, Ian Mandy, Janik Schreuder, Edrich Claasen, Telani Botha, Puren Coetzee, Saleka Bothlale, Jocke Coetzee, Diné Joubert, Matthew Wessels en Thys Fourie.

Luggeweerskiet het die destydse .22-kaliber by skole vervang, omdat die Wet op die beheer van Vuurwapens verander het. Skuts skiet nou binnenshuis met .177-kalibers (4.5 mm korrels) oor ’n afstand van 10 m in ’n lê-, kniel- of staan-posisie. Slegs sekere gewere sonder teleskope word toegelaat. Gewere moet aan sekere standaarde voldoen om die speelveld gelyk te maak. Skuts kan al van ’n jong ouderdom begin skiet en seuns en meisies ding in verskillende ouderdomsdomsgroepe (o.12, o.14, o.16 en o.21) teen mekaar mee.

Luggeweerskiet word professioneel en georganiseerd bestuur en aangebied. Leerlinge kan erkenning by skole kry, of provinsiale en nasionale (SANSSU) kleure verwerf. Volgens Olivier leer die sportsoort skuts om hul konsentrasievermoë te verbeter, en gedissiplineerd en kalm te bly.

Vir meer inligting, bel Olivier by 082-643-6380.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article