Ons lewe word deur tussenwerking met ander mense gekenmerk.
Niemand van ons gaan heeltemal geïsoleerd deur die lewe nie. Iewers kom ons met mense in aanraking. Iewers kruis mense jou pad.
Die soort mense wat jou pad kruis, is ontelbaar. Die redes waarom mense jou pad kruis, is legio.
Die lengte van die reis hang van omstandighede af.
Sommige mense kruis jou pad om jou iets van jouself en die lewe te leer.
Hulle is omgee-mense met goeie harte. Hulle loop die pad met liefde en omgee. Hulle ondersteun. Hulle bemoedig. Hulle leer jou hoe om lief te hê en te waardeer.
As jy gelukkig is, stap jy lank ’n pad saam met hierdie mense in jou lewe.
Ander mense kruis jou pad omdat julle iets in gemeen het.
Dalk ’n gemeenskaplike werkgewer of ’n projek wat gesamentlik voltooi moet word.
Gewoonlik stap jy hierdie pad saam totdat die gemene faktor nie meer bestaan nie. Dan skei jul paaie. Hierdie mense kan ’n positiewe of negatiewe invloed op jou lewe hê.
Soms kruis mense jou pad wat jou leer hoe om dinge nie te doen nie. Hoe jy nie wil wees nie. Wat jy nie wil sê nie.
Afhangende van omstandighede is hulle vir ’n lang of kort tyd op jou lewenspad.
Om die lewenspad te stap is ’n groot uitdaging.
Dankie vir omgee-mense wat hierdie pad saam met ons stap. Mense wat ons beter weergawes van onsself laat word.
Julle is kosbaar.


