Gamiem Abrahams, woordvoerder vir die departement van maatskaplike ontwikkeling, sê die Thusong-kinder-en-jeugsorgsentrum was tot 2019 ’n satellietgerief van Kids Haven in Kaapstad.
“Twee van die geboue het aan Kids Haven behoort, en die ander aan die regering. Ons het dit nooit as ’n amptelike skuiling vir haweloses of ’n sopkombuis geregistreer of befonds nie.
“Voorheen was daar voortdurende uitdagings met die bestuur en bedrywighede van die sentrum.
“Die registrasie het verval, weens verskeie oorsake: Konflik binne die bestuursraad het gelei tot ’n gebrek aan toesig, monitering en evaluering van dienste. Jaar- en ander bestuursvergaderings het nie plaasgevind nie. Geouditeerde finansiële state en nie-finansiële data was nie beskikbaar nie. Kinders is ingeneem en het sonder geldige hofbevele by die sentrum gebly.
“Sommige van dié mense was ouer as 18 en nie wetlik veronderstel om ingeneem te word nie.
“Die sentrum het ’n lae besettingsyfer gehad, die diens is nie ten volle benut nie en het nie die uitgawe regverdig nie.”
Vier ander geregistreerde kinder-en-jeugsorgsentrums is in Kimberley beskikbaar. Destyds is plek hier beskikbaar gemaak toe kinders van Thusong oorgeplaas is.
“Ons departement het verskeie ingrypings gedoen. Die sentrum is onder finansiële administrasie van Kinderwelsyn geplaas; weeklikse terreinbesoeke en monitering is gedoen; leiding is vir ’n finansiële bestuur- en liasseringstelsel gegee; raadslede is opgelei; en ons regseenheid het personeel oor regskwessies opgelei.”
Die ingrypings het oor vier jaar nie gehelp nie, en die sentrum is gesluit.
“Prosedures is gevolg. Kinders jonger as 18 jaar is geassesseer en hul huislike omstandighede ondersoek, kinders wat gereeld met hul gesinne in kontak was, is met hulle herenig. Kinders wat geen onmiddellike familie gehad het nie, is óf in pleegsorg geplaas óf deur die hof na ’n ander kinder-en-jeugsorgsentrum oorgeplaas. Personeel is drie maande kennis gegee. ’n Vergadering is met Kids Haven gehou om die geboue aan hulle terug te gee en reëlings is getref om dit teen vandalisme te beskerm. Geen kind is dakloos gelaat nie.”
Die departement van openbare werke en infrastruktuur, en die premier se kantoor, het teen die koerant se spertyd nie kommentaar gelewer oor die sopkombuis nie.





