Onderwys is die sleutel tot verandering in die samelewing, sê die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) ter viering van Wêreldonderwysersdag Woensdag (05/10).

Fedsas ondersteun die tema van dié dag – dat die transformasie van onderwys by onderwysers begin.

Die federasie glo ook dat globale uitdagings soos die klimaatkrisis, sosiale ongelykhede en gewelddadige konflik telkens weer die fokus op die belangrikheid van onderwys plaas as die enigste manier om hierdie uitdagings die hoof te bied.

Dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van Fedsas, sê die wêreld het kundiges nodig, nou meer as ooit.

“Die kenners van die toekoms sit nou op die skoolbanke, en hul sukses is van gehalte-onderrig afhanklik.

“Die sleutel tot daardie gehalte-onderrig is onderwysers.

“Ons moet seker maak dat onderwysers toegang het tot die hulpbronne wat hiervoor nodig is.”

Fedsas vat vanjaar hande met die ATKV om passievolle onderwysers te vereer en moedig beheerliggame, ouers, leerlinge en ander aan om Wêreldonderwysersdag te vier.

  • Ouers en leerlinge word ook genooi om die sosiale media te gebruik om hulde te bring aan opvoeders wat ’n positiewe invloed het deur die hutsmerk #dankieonnie op Fedsas se platforms, insluitend Facebook, Twitter, Linkedin en Instagram, te deel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article