Met ’n sooispitseremonie is ’n langgekoesterde projek by die Yonder-sentrum vir volwasse mense met ’n intellektuele gestremdheid bekragtig.
Die projek, die bou van ’n wêreldgehalte kombuis- en eetsaal vir die inwoners van Yonder, voeg waarde tot dié volwassenes se lewe by. So het Jannie van Zyl tydens die seremonie op Donderdag (29/09) in Kimberley gesê.
Van Zyl, direkteur van die Noord-Kaaplandse Geestesgesondheidsvereniging, waarvan Yonder deel is, sê die projek is die laaste fase van ’n meesterplan wat dekades gelede oor gedroom is.
So is daar jare gelede twee dubbel- en ’n enkelverdiepingkoshuis gebou, asook 12 werkswinkels en ’n administratiewe gebou. Paaie is verbeter, wooneenhede opgeknap en die terrein met elektriese omheining en straatligte verbeter en beveilig.
In die nuwe kompleks gaan daagliks meer as 750 etes voorberei word, en dit sal ook as ’n opleidingseenheid dien waar mense met ’n gestremdheid in die kookkuns opgelei word. Die ligging van die kompleks gaan boonop die logistiek van maaltye by Yonder vergemaklik.
“Die projek het uit ondersteuning gegroei,” sê Dries Wiese, voorsitter van die Kenilworth-utiliteitsmaatskappy.
Hy het die gemeenskap, instellings en besighede bedank, en sê dat ondersteuning van projekte soos die Yonder Hartsfees daartoe bygedra het. Van Zyl en Wiese is dankbaar vir plaaslike professionele maatskappye wat by die beplanning en bou van die projek betrokke is.
Bouwerk behoort einde 2023 voltooi te wees.




