Pasiënte wat op onbedekte matrasse moet lê en vuil linne wat al meer as drie weke lank by die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal (RMSH) in Kimberley ophoop, word deur jarelange personeellede as ’n “absolute laagtepunt” by die hospitaal beskryf.
Die linne kan glo nie gewas word nie omdat die warmwatertoestel nie werk nie.
“Wanneer dit by gesondheidsorg kom, is infeksiebeheer een van die belangrikste riglyne om te volg. Nou lê pasiënte op ontblote matrasse, of die nuwe pasiënt moet die vorige pasiënt se vuil linne gebruik,” vertel ’n mediese praktisyn wat by die hospitaal werk.
“Dit is verstommend dat ’n volhoubare alternatiewe plan nie vir sulke gevalle deurgevoer kan word nie.
Die praktisyn vertel dat die linne boonop oud, dun en vol gate is en dat dit ’n jammerte is dat die hospitaal nie voldoende linne het nie.
“Waar gaan die draaipunt kom?” vra die praktisyn.
Ook is die hysbakke van die RMSH, wat op ’n gereelde grondslag buite werking is, weer ’n bron van ergernis en ongerief.
’n Ingeligte bron vertel dat ’n vrou by wie die geboorteproses reeds begin het noodgedwonge lewe moes skenk in die kindersaal, wat op die grondvloer is.
Weens suurstofnood en omdat die afdeling nie vir ’n kraamprosedure ingerig is nie, is die baba later oorlede.
Nog iemand wat by die hospitaal werksaam is, vertel dat minstens sewe nuwe hysbakke reeds in berging by die hospitaal is, maar dat dit nie bekend is wanneer dit aangebring gaan word nie.
Die woordvoerder van die hospitaal is vir kommentaar genader, maar teen druktyd Dinsdag (04/10) is geen kommentaar nog ontvang nie.




