’n Mens sou kon skryf oor die 34-jarige vrou van Roodepan in Kimberley wat Vrydagaand deur drie mans verkrag en daarna met paraffien aan die brand gesteek is.

Of ’n mens sou kon skryf oor die vermeende verkragter en moordenaar van die 11-jarige Relebogile Segami van Galeshewe wat vandeesweek weer in die hof vir borgtogaansoek gaan verskyn.

’n Mens sou kon verwys na die ses erg ontbinde lyke van vermoedelik vroue, vyf sonder klere, wat vandeesweek in ’n stegie in Johannesburg gevind is.

’n Mens sou kon noem van die man van Tongaat wat Sondagaand glo in ’n besope toestand sy vyfjarige dogtertjie verkrag het.

Ook sou ’n mens na die hofsaak in Johannesburg kan verwys waarin ’n 41-jarige pa én die 31-jarige ma tereg staan op onderskeidelik 42 en 40 aanklagte van seksuele oortredings, insluitend verkragting, van hul drie dogters.

’n Mens sou die berigte kon onthou van die Krugersdorp-bendeverkragting in Julie waartydens agt vroue glo deur nagenoeg 14 onwettige myners verkrag is.

’n Mens sou kon terugkeer na eie bodem; na die nuutste misdaadsyfers toe Bheki Cele, minister van polisie, gesê het dat daar ’n daling in verkragtingsake in sewe provinsies was, maar dat ’n styging in die Noord-Kaap en Noordwes aangemeld is.

’n Mens sou verhandelinge kon skryf oor dit wat ’n mens lees oor “waarom verkrag mans”, “hoe om jou seun nié as ’n verkragter groot te maak nie”, “faktore wat tot verkragting bydra”, of “watter persentasie verkragters is vroue?”

’n Mens onthou dan dit was net onlangs Vrouemaand; dat die jaarlikse 16 Dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders eersdaags gaan begin.

Dalk is dit die afgelope dae se morbiede en rookgrys lug weens die hewige veldbrande in die Noord-Kaap; en dat ’n mens jou die verskrikking van ’n vlammehel in tierende wind kan indink, dat ’n mens stom en woordeloos is oor dié gruwelikhede van die mens.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article