Borskankerbewustheidsmaand vind in Oktober plaas en om bewustheid hieroor te help bevorder, het ’n dokter van Kimberley ’n high tea-geselligheid by ’n gastehuis in die stad aangebied.
Persone wat kanker oorleef het, asook ander betrokkenes by kankerhulp en programme ter ondersteuning het die geleentheid op Vrydag (07/10) by Osborne Manor bygewoon.
Volgens navorsing is borskanker die mees algemene soort kanker by vroue, en die wêreldgesondheidsorganisasie het in 2021 gesê dat dit selfs meer algemeen as longkanker voorkom.
KANSA sê vroeë bespeuring van borskanker is van deurslaggewende belang aangesien dit vroue se kans op oorlewing dramaties verhoog.
Die kans om borskanker te kry, verhoog namate ’n mens ouer word. Vroue jonger as 50 jaar word egter al hoe meer met borskanker gediagnoseer.
Die risiko vir borskanker is hoër indien ’n familielid borskanker gehad het aangesien daar ’n abnormale geen teenwoordig kan wees wat met ’n hoë risiko vir borskanker vereenselwig word.
Hoewel die meerderheid van borskankergevalle by vroue voorkom, kan mans ook borskanker kry.
- Om vroue verder te motiveer om borsondersoeke te laat doen, bied dr. Chantele de Jager Wood gratis borsondersoeke in Oktober aan.
Die borsondersoeke word slegs per afspraak gedoen. Afsprake kan op Maandae en Woensdae in die middag gemaak word, of op Donderdae in die oggend. Skakel 053-838-0490 om ’n afspraak te maak.





