Daar is beroepe wat van die staatsdiens se aanlyn stelsels afhanklik is.
Sommige beroepe is van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens afhanklik, ander van die Registrateur van Maatskappye of die departement van arbeid.
Nie alle aanlyn stelsels werk soos wat dit veronderstel is om te werk nie. Mense gooi maklik hul hande in die lug, en die maklikste verskoning (naas ons-werk-van-die-huis-af) is: “The system is offline”.
Selfs al is die stelsel werkend, beteken dit nie dit werk noodwendig reg nie. In elk geval, nie soos dit veronderstel is om te werk nie.
Die gebruiker aan die een kant en die werknemer aan die ander kant van die stelsel sien in baie gevalle twee verskillende prentjies.
Al wat werknemers byvoorbeeld sien, is dokumentasie wat opgelaai is of wysigings wat aangebring is. Die feit dat dit die gebruiker ure geneem het om dit uiteindelik reg te kry kom glad nie by hulle op nie.
As daar ’n goeie ondersteuningstelsel agter ’n aanlyn stelsel is, is dit bemoedigend.
Maar daar is selde. Die magteloosheid wat mense beetpak as hulle met ’n stelselprobleem sit en besef dat niemand binnekort gaan kan help nie, is hartverskeurend.
Agter stelsels sit mense. Stelsels skryf en dateer nie hulleself op nie. Stelsels is nie foutloos nie. Mense moet ingryp en namens stelsels dink en optree.
Wat as ons groot aanlyn stelsels so mankoliekig raak dat dit ons hele land negatief beïnvloed?
Dat dit so hinkepink werk dat dit ons ekonomie kniehalter?
Waar gaan ons dan beland?




