“Nee kyk, my gesin het my nou verskriklik lief, want hulle almal soek geld,” skerts die digter Lynthia Julius (28), wat verlede week as die algehele wenner van die Woordfees-kortverhaalkompetisie aangewys is.
Sy wen R30 000, geborg deur Du Toitskloof Wyne, vir haar verhaal “Plat lê soos ’n Minora blade”, wat in die Toyota US Woordfees se kortverhaalbundel, Wild, verskyn.
Julius se verhaal is uit 366 verhale as die wenverhaal gekies.
“Die skryfproses . . . Ek bly alleen en dit raak eensaam, want dis net jy en jou woorde. En jy vergeet soms dat jy eintlik ’n stem het. En as so iets na jou kom, dan besef jy ‘ek is nogal ietsietjie’, soos my suster se kind sê.”
Die verhaal handel oor haar beste vriend, Ryan, wat in 2019 dood is.
“Die sin ‘Wat is mooi ná rou?’ in daardie verhaal het iets in my laat breek. Die verhaal lê verskriklik na aan my hart. Die rouproses maak my nog by tye mal, maar die vraag moet gevra word, want dis ’n belangrike een.”
Julius, wat in Springbok gebore is en in Kimberley grootgeword het, se debuutdigbundel, Uit die kroes, is in 2020 deur Kwela Boeke uitgegee. Sy het vroeër vanjaar die J.C. Steyn-beurs vir ’n MA-student in kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) verwerf. Sy het ’n honneursgraad in filosofie aan die UV voltooi.
Die skryf van ’n gedig kom vir Julius makliker as ’n kortverhaal.
“Met ’n kortverhaal is niks toevallig nie. As jy iets noem, moet daar ’n funksie wees. Dit het amper ’n wiskunde-effek. Jy moet eers weet wat die formule gaan wees. As jy ’n kers in die begin genoem het, moet dit later weer iets beteken.
“Ek hou vreeslik van dom voel. Dan voel ek ek het iets om te leer. Ek dink nie ek is alwetend wanneer dit by gedigte kom nie. Ek is nog ’n babatjie. Maar ’n gedig kom makliker vir my.” – AJ Opperman





