Hansie Wessels kort nadat hy in Kuruman aangeval is.

Foto: Verskaf

’n Sakeman van Kuruman is by ’n taxistaanplek beseer toe hy met klippe bestook is waar hy ’n ander sakeman­ wou help wat deur rowers oorval is.

Hansie Wessels sê hy het Vrydag (21/10) omstreeks 17:15 sy gewone roete huis toe gery toe hy sien hoe ’n groep mans by die taxistaanplek in Voortrekkerstraat op die bakkie van Pierre Hauman, eienaar van Kido Staal, toesak. Hulle het die deure oopgeruk.

Die voorval was op die hoofpad in die rigting van Hotazel waar spoedhobbels padgebruikers dwing om stadiger te ry.

Wessels het op Hauman se bakkie afgepyl en in die proses sy oop passasiersdeur afgery. Van Hauman se aanvallers het laat spaander.

Een van die rowers het egter by Hauman se bakkie gebly en Wessels geskop en met klippe gegooi toe hy hom probeer aankeer.

Hauman kon wegkom en het in die rigting van sy slaghuis gehardloop. Mans naby Wessels se bakkie het sy kosblik gegryp voordat hulle ook weggehardloop het.

“Daar was nie net een of twee nie, maar ’n helse klomp,” sê hy.
Hansie Wessels

Wessels sê sy regteroor is “amper af” en hy het steke agter sy oor, asook agter sy kop en bo sy oog gekry. Sy een arm en van sy ribbes is gebreek.

Wessels sê die polisie was Vrydagaand by hom en ’n klag is ingedien. Hy het ’n klip wat in sy bakkie gelê het na die polisie vir vingerafdrukke geneem.

Kapt. Olebogeng Tawana, woordvoerder, sê die polisie het ’n soektog na die aanvallers begin en ondersoek ’n klag van diefstal.

Wessels beskryf die gebied as ’n nes en sê veral vroulike inwoners vermy lank reeds die dorp omdat dit so gevaarlik is.

Gawie Verreynne (93), ’n boer van die dorp, is op 14 September vanjaar dood weens komplikasies nadat hy deur vyf mans naby ’n supermark hier aangeval is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article