Cara-Lee Greyling ten tyde van haar deelname in Jordanië.

Foto: Verskaf

Om op ’n wildvreemde perd op ’n vinnige galop aan tentpegging deel te neem, en boonop te moet afsak om ’n teiken op die grond raak te steek terwyl jy nie weet hoe die perd gaan reageer nie – dít is uitdagend.

“Daar was ’n hele paar slegte valle,” vertel Cara-Lee Greyling, wat onlangs in Jordanië as lid van die Suid-Afrikaanse vrouespan aan ’n internasionale byeenkoms deelgeneem het.

Van dié grand prix-toernooi vir vroue, aangebied onder die vaandel van die International Tent Pegging Federation, het die Suid-Afrikaanse span as wenner teruggekeer.

Greyling het ook die derde plek in die individuele afdeling verower, en ’n spanmaat, Ananje Schutte van Jacobsdal, is die individuele kampioen.

In dié toernooi het Greyling, die stalbestuurder en ryskool-afrigter by die Mein Heim-landgoed buite Kimberley, teen deelnemers van onder meer Jordanië, Oman, Soedan, Rusland, Belarus, die Verenigde Koninkryk, Kazachstan, Koeweit, Noorweë, Indië en Pakistan meegeding.

Sy is vergesel deur spanbestuurder Dalene Baksa en afrigter André Louw, asook Schutte en Suritha Venter as spanmaats.

“Jordanië was ’n belewenis, en om die stad Petra te sien, was asemrowend,” sê Greyling.

Dit was vir haar ’n besonderse belewenis om teen 13 ander lande deel te neem.

Sy sê hoewel die kommunikasie ’n bietjie moeilik was, was die venue en organisering puik.

Tydens só ’n toernooi verskaf die land wat dit organiseer al die perde vir die ruiters, en in dié geval het die weermag van Jordanië sy perde beskikbaar gestel. Dié perde moes al aan die sportsoort blootgestel wees.

Elke perd word met ’n nommer gemerk, en elke ruiter trek ’n nommer. Die spanlede moet dan ná slegs vier lopies op die perde besluit watter perd vir watter ruiter en vir watter nommer geskik is.

Greyling, wat ’n honneursgraad in BSc dierkunde aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) verwerf het, het aan die Hoërskool Hangklip in Queenstown matrikuleer.

Sy kom uit ’n tentpegging- en perdefamilie en het al aan die meeste perdesportsoorte deelgeneem. Sy was ses maande oud toe sy die eerste keer op ’n perd se rug gesit het, en op 22 maande het sy aan haar eerste “on-lead”-skou deelgeneem.

As ’n ryskool-afrigter glo sy onwrikbaar aan die voordele wat perdry vir ’n kind inhou.

Benewens die verbetering van balans, propriosepsie en fisieke krag, leer ’n mens soveel sielkundige lesse by perde, vertel sy. Dit sluit leierskap, toewyding, empatie en geduld in.

Greyling sê haar tienerlewe sou baie anders verloop het as sy nie ’n toegewyde verantwoordelikheid tot haar perde en perdesport gehad het nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article