Dié tyd van die jaar wys die druppels van die eerste lentereën, wat aan milddadige persblou-jakarandabloeisels hang, dat dit Oktober is.

Dié tyd van die jaar, wanneer ’n mens in ’n winkel instap, is daar meteens Kersversierings op die rakke.

Dié tyd van die jaar, met al die doenighede by skole, weet ’n mens dat die einde van nog ’n jaar spoedig sal aanbreek.

Daar is die besef dat nog ’n jaar se matrikulante minimum 12 jaar wat verby is, simboliseer.

Wanneer ’n mens naby ’n skool woon, is jy boonop ’n onwillige getuie van ’n mikro-kosmos van die mensdom.

Deur die jaar het jy leerlinge en hul ouers se kom en gaan by die skoolhek waargeneem; stemmige individue én raserige groepies.

Jy het die leerlinge gesien wat vroegoggend lank voordat die skoolhek oopgesluit is, deur taxis afgelaai is; ook dié wat deur ouers in rokende en hikkende motors afgelaai is, óf in die blinkste, duurste voertuie.

Jy het leerlinge gesien wat op sypaadjies takke van bome afbreek; wat lekkergoedpapiere en koeldrankbottels neergooi.

Jy het leerlinge gesien wat eenkant is; nie deel van ’n groep nie; ook dié wat verbygangers met ’n glimlag groet.

Jy het ouers sien kom en gaan; diegene wat in die middel van ’n besige pad parkeer; of binne-in die bure se blombedding; of wat ongeduldig die toeter druk dat die kind ná skool tog net moet aankom.

Wanneer die raserige groepie hul laaste skooldag in die middel van die padkruising vier; met harde musiek; terwyl die motor waarop hulle sit se toere opgejaag word, sien ’n mens die ouers se gesigte. Is dit trots, hartseer, blydskap, maar ook angstigheid wat ’n mens daar sien?

Oor ongeveer twee dekades gaan van hierdie matrikulante ook hul kinders se laaste skooldag waarneem.

Mag hulle dan tevrede voel met wat hulle van hul “eendag” gemaak het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article