Onlangse toesighoudende inspeksies en hommeltuigmateriaal het die vervalle toestand van die afvalwatersuiweringsaanleg van De Aar opnuut beklemtoon.
Terwyl bome in een van die riooldamme groei, is ’n tweede een amper leeg, met ’n derde een se inhoud wat groen en stilstaande is.
Gerhard Engelbrecht en Roweda Adams-Beukes, DA-raadslede van die Emthanjeni-munisipaliteit, sê in ’n mediaverklaring vandeesweek dat die ineenstorting van die aanleg steeds voortgaan, ongeag die munisipaliteit se belofte van twee jaar gelede dat ’n aansoek om befondsing van die munisipale infrastruktuurtoelae gedoen sal word vir die herstel en opknapping hiervan. Tydens inspeksies is die aanleg verlate gevind, met geen toerusting of masjinerie wat werk nie.
Intussen het rioolvuil ver in die omliggende veld ingestroom, tot ’n paar meter van ’n spoorlyn af.
Die riool is ook sowat 70 m weg van die Brakrivier-rivierbedding, wat tans droog is weens Emthanjeni se voortdurende wateruitdagings.
Boonop het rioolverwante probleme die afgelope paar maande oor die Emthanjeni-gebied heen vererger.
Dit sluit al meer rioolstortings by huise, skole en besighede in, en slote wat gegrawe word om die rioolvloei weg van huise te lei.
Fawzia Rhoda, die party se kiesafdelingshoof: Bo-Karoo, het die kwessies by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, die Groen Skerpioene en departement van water en sanitasie aangemeld. Gegewe die munisipaliteit se oortreding van omgewingsregulasies, word klagte voorberei om die saak ’n kriminele aangeleentheid te maak, sê die party.




