Geharde atlete en fiksheidsfanatici, maar ook beginners en gesinslede van jonk tot oud, word genooi om op Saterdag 12 November aan die tweede Titans Chase-avontuurreeks by Oewerkuier, teen die Vaalrivier, in Christiana deel te neem.
Boonop het ’n span, wat uit tot tien deelnemers kan bestaan, die geleentheid om kaartjies vir deelname aan hierdie hardloop-hindernisbaan-uitdaging te wen.
“Die wedstryd van die lewe is nie vir toeskouers nie, maar vir deelnemers. Elke dag is ‘n geleentheid om beter te wees as die vorige dag. Of jy hardloop, loop of kruip… vordering is vordering,” sê Ricardo Gressel, Titans Chase-ambassadeur.
Gressel het in September met die eerste aanbieding van die reeks in Christiana gesê dit gaan daaroor om saam ’n hindernis te oorwin, en dat deelnemers teen die titan in hulself meeding. Vir hierdie geleentheid het 52 deelnemers ingeskryf.
Hy sê ook die byeenkoms voeg waarde tot die gemeenskap by en bemark die gebied.
“Christiana het potensiaal, en wat ons doen kan mense motiveer om terug te gee, skoon te maak en te help – alles vir ’n beter en blinker toekoms.”
Met die eerste aanbieding van die reeks het Naziel Adams van K-Fit in Kimberley die 10 km-hindernisbaanuitdaging in 1 uur en 9 minute kafgedraf. Die vinnigste tyd in die 5 km-hindernisbaanuitdaging is deur ’n leerling van die Gekombineerde Skool Christiana opgestel, wat dit in slegs 40 minute voltooi het.
Die deelnemers het die baan as veeleisend beskryf, met die delwershope wat hulle ook moes oor, ’n hindernis op hul eie.
Bring tyd saam deur
Die Smith-familie met hul eenderse T-hemde met die woorde “Familie staan saam” daarop, het in September as ’n span deelgeneem en die organiseerders met hul spangees beïndruk.
Pieter, een van die familielede, vertel dit was vir hulle ’n dag van spanwerk waarin hulle mekaar heeltyd ondersteun het.
Hy beskryf sy familielede met ouderdomme wat wissel van 29 tot 57 jaar, as fiks en aktief. Volgens hom was die geleentheid goed georganiseer, wat alles makliker gemaak het.
Die familie is van oral oor – Nederland, Pretoria tot in Christiana – en het lank reeds besluit dat hulle saam aan die uitdaging wou deelneem.
Weens verskeie redes, soos dat dié wat in Nederland woon terug is huis toe, sal hulle nie aan die volgende uitdaging deelneem nie.
Skryf só in
Deelnemers kan die 5 km, 10 km of Tiny Titans-baan aandurf.
Die verskillende afdelings is:
- die “War Hammer Chaser”, ’n 5 km-hindernisren vir ’n individu;
- die “War Hammer”, ’n 5 km-hindernisren vir spanne van twee tot tien deelnemers;
- die “Beast”, ’n 10 km-hindernisren vir spanne van twee tot tien deelnemers; en
- “Tiny Titans”, geskik vir kinders ses tot 15 jaar oud.
- Om in te skryf, besoek entryninja.com, klik op “Events” en kies “Titans Chase Adventure Series”.
- Inskrywings vir “Tiny Titans” kan die Saterdag gedoen word. Registrasie begin om 06:30 en die wegspringtyd is van 08:00 tot 12:00.
- Tydens die naweek sal vermaak, verblyf in tente en maaltye beskikbaar wees.
- ’n Kersmark word ook op die dag by Oewerkuier aangebied, en ook ’n Anything That Floats-geleentheid by Christiana on the Vaal. Hierdie twee gebeure is nie deel van Titans Chase se verrigtinge nie, en word deur ander instellings organiseer. Dit dra egter by tot ’n naweek met volop aktiwiteite in die oewerdorp.
- Vir meer inligting oor deelname en verblyf, besoek titanschase.co.za of die Facebook-blad Dare to be a Titan.
Staan só ‘n kans om tien kaartjies te wen
Een groep deelnemers kan tien kaartjies vir die Clash of Tribes-groepsuitdaging wen. Deelnemers hieraan moet tien jaar of ouer wees. Hierdie groep kan uit familie, kollegas of vriende bestaan. Verblyf is nie by die wenprys ingesluit nie.
Om deel te neem, stuur jou naam, van, e-pos adres en telefoonnommer voor of op Maandag 7 November om 10:00 na noordkaap@media24.com. Onthou, jou span mag uit tien lede bestaan.
Vertel ook in twee sinne waarom julle graag sal wil deelneem.





