Rdl. Donne-lee Jano van die Namakwa Civic Movement party (NCM) wat op die raad van die Khâi Ma-munisipaliteit in Pofadder dien.

Foto: Verskaf

Pofadder

Rdl. Donne-lee Jano van die Namakwa Civic Movement party (NCM) wat op die raad van die Khâi Ma-munisipaliteit in Pofadder dien.

Die Namakwa Civic Movement-party (NCM) in die Khâi Ma-munisipaliteit in Pofadder sê hulle is verheug nadat hulle ’n ontevrede werknemer gesteun het wat ’n suksesvolle grief teen ’n onreëlmatige aanstelling ingedien het.

Volgens Donne-lee Jano, NCM-raadslid, “het ons kaderontplooïing op plaaslike regeringsvlak bloedneus toegedien deur te help keer dat ’n personeellid wat voorheen in die burgemeester se kantoor gewerk het, onreëlmatig as ’n voorman aangestel is.”

Dit volg op ’n uitspraak deur Suid-Afrikaanse Plaaslike Regering Bedingingsraad (SALGBC) waarin ’n aanstelling ter syde gestel is omdat die regte prosedures nie gevolg is nie.

Christiaan Loss, die waarnemende voorman, is op 18 Februarie vanjaar deur Obakeng Isaacs, destydse munisipale bestuurder in kennis gestel dat Ishmael Kolberg aangestel is as die voorman in die tegniese afdeling.

Loss was ontevrede en het met die steun van die Imatu-vakbond ‘n grief teen die munisipaliteit en Kolberg by SALGBC ingedien. Die aansoekers het aangevoer die vakante pos is nie ingevolge kollektiewe ooreenkomste, diensvoorwaardes, sy werkskontrak en aanvaarde praktyk geadverteer nie. Die aanstelling het Loss van die geleentheid ontneem om vir die pos aansoek te doen. Sy regte is benadeel.

Hy het aangevoer dat daar geen deursigtigheid, billikheid of koersvaste beleid toegepas is nie. Die griefproses gee hom die geleentheid om homself te bemagtig om sy ontevredenheidheid met die werkgewer te lug. Indien sy grief bevredigend opgelos word, sal hy veiliger voel en sy allerbeste gee om die werkgewer se doelstellings te bereik.

In die skikkingsooreenkoms beveel kommissaris S. Beesnaar dat Kolberg teruggeplaas word na die kantoor van die burgemeester as spesiale programme-bestuurder. Intussen moet die munisipaliteit die vakature ingevolge die munisipaliteit se werwings-, keuring en aanstellingsbeleid teen einde Januarie 2023 vul.

Jano sê hulle verwelkom die uitspraak.

“Kaderontplooiing lei tot die inploffing van munisipale dienslewering. Die NCM as amptelike opposisie steun ook die nuwe wetsontwerp vir die Munisipale Stelselswet. Ons sal aanhou om kaderontplooiing te beveg in dié ANC-beheerde munisipaliteit.

“Die NCM beywer hom vir die aanstelling van bevoegde amptenare en werkers by die Khâi Ma-munisipaliteit. Ons mense in die Khâi Ma munisipale area verdien beter.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article