’n Politieke party en die National African Farmers’ Union (Nafu) meen grondhervorming in die Noord-Kaap “misluk omdat die regering transformasie onder ontluikende boere weerhou”.
Die provinsiale departement van landbou, omgewingsake en landelike ontwikkeling gee die onenigheid onder koöperatiewe van opkomende boere die skuld vir landbouprojekte wat faal.
Die beweringe kom nadat Reinette Liebenberg, die DA se provinsiale woordvoerder vir landbou, omgewingsake, landelike ontwikkeling en grondhervorming, op ’n pakhuis met miljoene rande se landboutoerusting in die Prieska-omgewing afgekom het wat reeds tien jaar onder stof lê.
Die toerusting, wat deur die departement aangekoop is, was bedoel om ontluikende boere te help om besproeiingsboere te word.
“Die afgelope tien jaar het die plaas geen oes opgelewer nie. Die boerderytoerusting is teen sowat R20 miljoen aangekoop, maar geen van die sowat 25 ontluikende boere wat kon baat, trek voordeel hieruit nie.
“Ontluikende boere in die gebied sukkel om toegang tot landbougrond te kry en kan nie hoë produksiekoste en vervoer bekostig nie. Intussen lê die grond braak en die masjinerie verroes, met geen kosproduksie of inkomste nie. Dieselfde gebrek aan landbou-ondersteuning en interdepartementele verhoudinge heers oor die provinsie heen.
“In die Dawid Kruiper-munisipaliteit wag ’n ontluikende boer, wat jare gelede met ’n eerbewys vir prestasie as ontluikende boer bekroon is, steeds om ’n boerderykontrak en ’n titelakte te ontvang.
“Die provinsiale regering bewerkstellig nie ware transformasie in die landbousektor nie. Ons versoek die LUR om die grond en toerusting beskikbaar te maak. Die departement moet die ander sfere van regering verantwoordelik hou om verdere ondersteuning te gee, wat gepaard gaan met gereelde monitering en die hou van bateregisters.”
Barend van Wyk, woordvoerder van Nafu, sê die Siyathemba-munisipaliteit is die beskermerheer van die Oranjesig-meentgrond.
“Indien die owerhede ernstig is om hul landbou-ontwikkelingsplan te laat slaag, moet hulle grond, toerusting, asook opleiding en mentorskap, verskaf. Ons het aangebied om geskikte boere te identifiseer, maar het nie veel reaksie gekry nie.
“Ons het geen politieke motiewe nie, ons wil geesdriftige ontluikende boere met durf, wat kennis en ervaring wil opdoen, bemagtig. Ons gaan ook die provinsiale departement nader om die projek weer aan die gang te kry.”
Hy sê Nafu het al ontluikende boere wat lusern en mielies produseer se landbouvaardighede verbeter.
“Om met kontantgewasse te boer is baie meer ingewikkeld as veeboerdery omdat jy byvoorbeeld met masjinerie, besproeiingskedules en bemesting moet werk. Daar is baie oudplaaswerkers en boere wat ons as mentors kan bystaan as die owerhede instem. Hier is selfs ’n sonkragaanleg wat ons kan help met sonkrag-energie.”
Zandisile Luphahla, departementele woordvoerder, sê die regering gee al meer as 20 jaar geld aan landbouprojekte, waarvan sommige geslaagd is en ander nie.
“Dit kan nie vir ewig aanhou nie. Op een of ander tydstip moet die koöperasies onafhanklik word en selfstandig boer. Ongelukkig wanneer hulle nie die mas opkom nie, versoek hulle meer geld.
“Wanneer geld betrokke is, begin die onmin onder boere. In die geval van Oranjesig was die projek aanvanklik baie suksesvol. Die koöperasie wou uitbrei en het ’n kontrak bekom om uie aan sekere kliënte te verskaf. Ons het die toerusting soos pompe, transformators, besproeiingstoerusting en masjinerie gekoop om hulle te help.
“Hulle moes die aansluitingfooi betaal om by die Eskom-netwerk aan te sluit. Die betrokke R100 000 het egter weggeraak en die projek het doodgeloop.
“Soortgelyke voorvalle het elders ook plaasgevind.
“Mase Manopole, LUR, sal die betrokke projek strategies bekyk om te besin wat die departement vir ontluikende boere met ’n duidelike visie en vasberadenheid kan doen om die projek te laat slaag.
“Die projekte waar ’n administrateur in beheer is, gedy, en regeringsbydraes word goed bestuur.
“Geslaagde projekte kom op goeie grondvlakbestuur neer.”





