Die nuutaangestelde hoof van die Noord-Kaapse departement van openbare werke, dr. Johnny Mackay (58), het Vrydag (28/10) vlugtig in die streekhof in Upington verskyn op 271 aanklagte van oortredings van die Wet op Pensioenfondse.

Dit kom nadat Mackay vroeër die dag deur die Valke in hegtenis geneem is, sê Mojalefa Senokoa­tsane, woordvoerder van die na­sionale vervolgingsgesag.

Borgtog van R5 000 is aan Mackay toegestaan, en die saak is tot 25 November uitgestel vir die vasstel van ’n verhoordatum.

Die aanklagte teen Mackay spruit uit sy dienstydperk as waarnemende munisipale bestuurder van die Kai !Garib-munisipaliteit.

Mackay is sowat drie maande gelede in die pos as departementshoof van openbare werke aangestel. Hy word daarvan beskuldig dat hy as die rekenpligtige beampte onregmatig versuim het om bydraes wat van werknemers se salarisse afgetrek is, volledig aan die gekonsolideerde aftreefonds vir plaaslike regering te betaal. Hy het glo ook versuim om enige bydrae waarvoor die werkgewer ingevolge die reëls van die fonds aanspreeklik was, te betaal, sê Senokoatsane.

Iemand wat aan hierdie misdryf skuldig bevind word, kan met tot R10 miljoen beboet of tot tien jaar tronkstraf gevonnis word, of albei.

Die algehele bedrag wat na bewering van September verlede jaar tot Maart vanjaar nie aan die fonds betaal is nie, beloop R9 502 600,34, sê Nomthandazo Mnisi, Valke-woordvoerder.

Die DA, wat al in 2017 ’n strafregtelike klag teen die Kai !Garib-munisipaliteit ingedien het oor sy versuim om werknemers se pensioenfondsbydraes te betaal, het MacKay se inhegtenis­neming verwelkom.

“Ons verwelkom dat die wiel van geregtigheid draai vir die talle munisipale amptenare van die Kai !Garib-munisipaliteit wie se pensioenfondse verval het omdat die munisipaliteit versuim het om bydraes oor te betaal,” sê Harold McGluwa, Noord-Kaapse DA-leier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article