Luther Obi, vleuel van Griekwas, het Saterdag (05/11) twee van die Noord-Kapenaars se vyf drieë teen Namibië se nasionale rugbyspan in Windhoek gedruk.

Die Poubloues het die kragmeting gemaklik met 33 – 18 gewen. Die oud-Blitsbok Rosko Specman (vleuel), Jay-Cee Nel (heelagter) en Niel Otto (plaasvervanger-losvoorspeler) het ook vir die wenspan gaan druk.

Elke keer dat Griekwas die bal wyd gespeel het, het dit probleme vir die Biltongboere veroorsaak. Dan het die Poubloues ook in die skrums en met rolmaalbewegings die oorhand oor die Namibiërs gehad.

Daar was wel ’n paar foute van die besoekers, soos ’n aanslaan deur die senter Eddie Fouché.

Die losvoorspeler Wian Conradie was een van Namibië se beste spelers. Hy het goed verdedig, ’n oorlas van homself by die afbreekpunte gemaak en ook ’n paar goeie lopies met die bal in die hand gehad.

Conradie is nie onbekend in Suid-Afrika nie. Hy was ’n paar jaar gelede een van die Universiteit van Johannesburg (UJ) se uitblinkers in die Varsitybeker-reeks.

Die wedstryd het deel gevorm van Namibië se voorbereiding vir sy Europese toer vandeesmaand. Die Namibiërs speel Saterdag (12/11) teen Spanje in Madrid en op 19 November teen Kanada in Amsterdam.

Die Biltongboere word afgerig deur Allister Coetzee, voormalige afrigter van die Springbokke.

Puntemakers: Griekwas 33 (19): Drieë: Luther Obi (2), Jay-Cee Nel, Rosko Specman, Niel Otto. Doelskoppe: George Whitehead (4). Namibië 18 (13): Drieë: Adriaan Ludick, Wian Conradie. Doelskop: Cliven Loubser. Strafdoele: Loubser (2).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article