Die Blou Dakke by Upington wat op ‘n stadium onder meer ‘n toerisme-aantreklikheid was.

Foto: Facebook/Werner Strauss

Upington

Sakkie se Arkie. Die foto is in 2021 tydens met sy 24ste bestaansjaar geneem.

Die gemeenskap en lede van politieke partye, burgerregte-organisasies en gemeenskapsaktiviste gaan Donderdag, 17 November, ’n griefskrif aan die Dawid Kruiper-munisipaliteit in Upington oorhandig om hul ontevredenheid oor omstrede besluite en swak bestuur van munisipale ontspanningsoorde te lug.

Hulle eis ook dat hulle in raadsbesluite oor ontspanningsgeriewe geken word.

Die volg op die raad se besluit om die vervalle Die Eiland-vakansieoord aan ’n privaat onderneming te verhuur sonder om dit op tender te plaas.

Intussen wil die munisipaliteit ook Sakkie Spangenberg van Oranjerivier Watersport, wat erf 15747 bekend as Olivierpark reeds 20 jaar by hulle huur, van die grond afsit.

Spangenberg bedryf die Sakkie se Arkie-toeristeboot op die Oranjerivier en ’n piekniekterrein daarlangs.

Volgens een inwoner is Die Eiland in die geheim aan iemand verhuur sonder dat die gemeenskap daarin geken is. “Ons vermoed ? kader met politieke bande het die huurkontrak gekry.”

Die inwoner wil naamloos bly uit vrees vir viktimisasie.

Hulle is moeg vir swak dienslewering en alles wat ten gronde gaan.

“Die sypaadjies, middelmanne en parke veral, om nie eens van ontspanningsoorde te praat nie, vergaan. Die Bloudakke was ’n ontspanningsoord met ’n swembad en ’n trouvenue. Spitskop was ook ’n ontspanningsoord met ’n swembad. By Reitzpark kon mense uitkamp en swem. Bellevue was ’n stadion met ’n sokkerveld, tennisbane en swembad.

“Sakkie se Arkie is al wat van dié munisipale geriewe oorgebly het en wat inwoners nog kan geniet. ’n Mens kan op die boot ry, op die gras ontspan, swem, visvang of ’n kano te water laat. Inwoners kom van heinde en ver, sommiges loop kilometers ver soontoe. Upington is van die warmste plekke in die land, ons wil graag swem om af te koel. Die munisipale swembad kan onmoontlik 500 mense veilig akkommodeer.

“Nou, op die vooraand van die feesseisoen, wil die munisipaliteit vir Sakkie van die erf afgooi. Waar gaan die inwoners feesvier, want al die ander munisipale oorde is tot niet. Hoekom wil die munisipaliteit Olivierpark verkoop, eerder as om die vervalle oorde aan voornemende huurders of kopers te bied?”

Die inwoner sê sommige mense is so deur amptenare en politici geïndoktrineer dat hulle dink dit is normaal dat munisipale oorde moet vergaan.

“Die beskuldiging dat Sakkie rassisties is, is van alle waarheid ontbloot. Dit is suur druiwe omdat hy nie harde musiek of swak gedrag toelaat nie, reëls waarmee ons as wetsgehoorsame burgers saamstem. Sakkie het al verskriklik baie vir die gemeenskap gedoen, en ons is gek oor sy geriewe en diens.”
Anonieme inwoner

“Dit gaan oor die beginsel van openbare belang. Ons as die gemeenskap dring aan om te weet wat die munisipaliteit met die oorde beplan, want dit is ons bates en oorde. Hulle moet oop kaarte met ons speel.”

Die inwoner sê indien Olivierpark aan ‘n hotelgroep verkoop word soos die gerugte loop, sal net toeriste baat vind en nie inwoners nie. “Dit sal ’n uiters betreurenswaardige situasie wees.”

Intussen sê die DA hulle het verlede Vrydag die besluit teengestaan waarin ’n huurkontrak van die Die Eiland deur die ANC-meerderheid goedgekeur is. German Gewers, DA-raadslid sê die besluit is deurgedruk.

“Dit kom ‘n week nadat die raad die munisipale bestuurder en die burgemeester toestemming gegee het om ’n privaat huurder te soek, ondanks belangstelling van vele aansoekers. Die ANC-raadslede het die groter Upington en die provinsiale gemeenskap die geleentheid ontsê om ook vir ’n huurkontrak te bie deur te weier om die tender oop te stel. ’n Oop proses sou verseker dat die beste aansoeker die huurkontrak kry.

“Die ANC het ’n huurkontrak deurgedruk, terwyl fyner besonderhede, insluitend die finansiële implikasies en termyn, onbekend is. Die kritieke besonderhede sal agter geslote deure deur die tenderkomitee afgehandel word, wat nie in openbare belang is nie.

“Dieselfde het voorheen met die Gordonia-oord en gaan nou met Sakkie se Arkie gebeur. Die private onderhandelinge vir die huurkontrakte vir ander geriewe wat ook in ’n slegte toestand is, was ook onsuksesvol weens die selektiewe toekenning van die huurkontrakte.”

Die DA gaan sy kommer aan die LUR van samewerkende regering en die ouditeur-generaal rapporteer vir verdere ondersoek in die jaarlikse oudit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article