‘Raad in wanfunksionaliteit gedompel’, sê regter oor Hopetown

Die polisie se forensiese ondersoekeenheid bestudeer die misdaadtoneel nadat Danny Jonas, speaker van die Thembelihle-munisipaliteit, se huis in Hopetown na bewering met petrolbomme bestook is. Die voorval het op 15 Oktober gebeur.

Foto: Argief

Danny Jonas is vir eers en hangende twee hersieningsaansoeke wat spoedig deur die hooggeregshof afgehandel moet word, nog die speaker van die Thembelihle-munisipaliteit in Hopetown.

Dié raad verkeer weens die onmin onder raadslede en politieke partye in ’n byna onregeerbare en ’n chaotiese toestand.

Só het regter Violet Phatshoane, adjunkregterpresident, onlangs in ’n uitspraak bevind. Die status quo word gehandhaaf hangende hersieningsaansoeke in verwante hofaansoeke waarin Jonas, sy eie Siyathemba-gemeenskapsbeweging (SGB), die ANC, munisipaliteit, munisipale bestuurder, Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK), departement van samewerkende regering en ander raadslede gewikkel is.

“Die antagoniste voer elkeen aan dat hulle in die beste belang van die raad optree. Die raad, wat die setel van goeie regering moet wees, is in spanning en wanfunksionaliteit gedompel,” bevind Phatshoane. Uiteindelik sal die gemeenskap die gevolge hiervan moet dra soos dienslewering en administrasie verswak.

Haar uitspraak is voorverlede week gelewer in die aansoek van die ANC en Tommy Yola om Jonas uit sy amp te verwyder. Die aansoekers voer aan Jonas wat op 22 Junie as raadslid en speaker verwyder is, moet ophou om as speaker op te tree en raadsvergaderings te reël. ’n Raadsvergadering moet dringend belê word om ’n nuwe speaker aan te wys.

Marnus Visser van die SGB steun dié aansoek, wat deur Jonas, die munisipaliteit, huidige munisipale bestuurder, Leonard Makena, burgemeester, en Frans Mans en Elzerone Stenekamp, raadslede, teengestaan word.

Uit die 11 wyk- en proporsionele setels hou die ANC vyf, die DA een, die SGB een, VF Plus een en die EFF drie. In Mei het Andrew Phillips, SGB-voorsitter die munisipale bestuurder en die OVK ingelig dat Jonas geskors is. Jonas het dit egter met ’n hofaansoek betwis en aangevoer Phillips, wat geskors is, het geen mag nie.

In Junie het ene mnr. Shuping, toe die waarnemende munisipale bestuurder, Jonas se posisie vakant verklaar. Jonas het egter in ’n skrywe aan die OVK aangedring dat Steven Marufu eintlik die waarnemende munisipale bestuurder was en Shuping geen jurisdiksie gehad het nie. Die SGB het intussen versoek dat Visser Jonas se setel moet oorneem.

Die ANC voer aan Jonas hou aan om raadsvergaderings op kort kennisgewing te belê en raadslede weier om die register te teken. Jonas is glo oordonderend, onderdrukkend en eensydig.

Op sy beurt voer Jonas aan dat die ANC deur die verkiesingsuitslae uit die kussings gelig is. Hulle het probeer om hom met vele kwelsugtige mosies van wantroue te probeer verwyder.

Nadat hy in ’n WhatsApp-boodskap van sy verwydering verwittig is, het hy die hof suksesvol genader en is hy nie as speaker verwyder nie.

Jonas het nie ’n hersieningsaansoek gebring nie waarna die hofbevel verval en hy in April weer as speaker verwyder is.

Toe sy party hom skors het Jonas geappelleer en die hof genader. Kragtens dié bevel behou hy sy posisie in die party en raad hangende ’n hersieningsaansoek.

Jonas voer aan hy is onpartydig en doen sy werk met integriteit. Dit is die raadslede wat die vergaderings ontwrig

.

Volgens hom is die jongste aansoek teen hom ’n poging om die aanbevelings van die forensiese ondersoek na die munisipaliteit se bedrywighede te onderdruk wat die nasionale tesourie op sy versoek gedoen het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article